Nuus 17:00
BULLETIN 11 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se mynbouproduksie styg met 4,4-persent in Julie
# Die DA begin met ‘n nasionale ondersoek na die swangerskap-pandemie onder kinders
# En Amerika herdenk die 11 September-aanvalle van 24-jaar gelede
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in Julie op ‘n maand-grondslag met 4,4-persent gestyg. Hoof-opnamestatistikus, Juan-Pierre Terblanche, sê ystererts en metale in die platinumgroep het die groei aangevuur, met stygings van onderskeidelik 12,2-persent en 6,2-persent. Hy bevestig ondanks die positiewe bydrae van diamante, chroom, en steenkool, het goud, mangaan, koper en nikkel afgeneem:
# Die DA sê die groeiende aantal meisies onder 16 wat in Suid-Afrika swanger is en geboorte gee, is uiters ontstellend. Die DA-lid, Alexandra Abrahams, sê in die Oos-Kaap was daar vanaf April tot Julie vanjaar ‘n verbysterende 117 meisies tussen 10 en 14 jaar wat geboorte gegee het. Sy sê die hantering van geslagsgeweld begin by die beskerming van meisies teen ouer mans wat hulle seksueel mishandel:
Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het Peter Mandelson intussen afgedank as ambassadeur in Amerika ná toenemende kritiek op sy verhouding met die ontslape Amerikaanse kinderseks-oortreder Jeffrey Epstein. Buitelandse Sake sê in ‘n verklaring die besluit is geneem weens bykomende inligting in e-posse wat Mandelson geskryf het. Dit toon die diepte en omvang van sy verhouding met Epstein het wesenlik verskil van wat bekend was tydens sy aanstelling. Mandelson was ‘n belangrike skakel tussen Starmer en die Amerikaanse president, Donald Trump, in ‘n kritieke diplomatieke tyd tussen die lande.
# Tennis: Australië se nie-spelende Davisbeker-kaptein, Lleyton Hewitt, gaan appelleer teen sy skorsing en boete omdat hy ‘n opkkikerbeheerbeampte gestamp het. ‘n Onafhanklike tribunaal van die Tennis Teen-opkikkerprogram het die voormalige wêreld-nommer-een vir twee weke geskors en met 350-duisend-rand beboet. Dit volg na die voorval in Oktober nadat Australië in die halfeindronde van verlede jaar se kompetisie teen Italië verloor het. Die skorsing tree eers oor twee weke in werking en Hewitt sal die naweek se tweederonde-kwalifiseringskragmeting met België in Sydney kan bywoon.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-48 teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-728-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-628-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-12-sent per vat.
# En laastens: Amerika herdenk vandag 24 jaar sedert die terreuraanvalle op New York, Washington DC en Shanksville, Pennsylvania, op 11 September 2001. Bykans drie-duisend mense is dood toe Al-Kaïda-kapers met vliegtuie in die Wêreldhandelsentrum en die Pentagon vasgevlieg en ‘n ander vliegtuig in ’n veld in Pennsylvania neergestort het. Familielede sal in New York byeenkom vir die lees van die name en ses oomblikke van stilte sal gehandhaaf word. President Donald Trump sal ‘n gedenkdiens in die Pentagon bywoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….