Nuus 17:00
BULLETIN 10 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sewe Chinese burgers word tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir ontvoering en gedwonge arbeid
# Murrayen Roberts Holdings word onder voorlopige likwidasie geplaas
# En krieket: Markram sê die SA20 stel jong spelers bloot aan die wêreldverhoog
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het sewe Chinese burgers tot 20 jaar tronkstraf elk gevonnis nadat hulle skuldig bevind is op 158 uit 160 aanklagte van ontvoering en gedwonge arbeid. Die groep is in 2019 in hegtenis geneem omdat hulle 91 Malawiese burgers, insluitend kinders, onwettig aangehou het op hul sakeperseel. Regter David Mhango het hulle in Maart skuldig bevind aan mensehandel en gedwonge arbeid. Hy het ook beslis dat al sewe onbevoeg is om vuurwapens te besit:
# Die boubedryf-reus Murray and Roberts Holdings, is na ‘n hofbevel onder voorlopige likwidasie geplaas. Die Gautengse Hooggeregshof het die bevel toegestaan na ʼn aansoek deur die maatskappy se krediteure. Dit kom te midde van ʼn parallelle proses waar Murray and Roberts Limited, ʼn dogtermaatskappy van die beheermaatskappy, onder vrywillige sakeredding geplaas is. Die sakereddings-praktisyn Josh Cunliffe sê die voorlopige likwidasie hou nie verband met die sakereddingsproses nie:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het Suid-Afrika se eerste Toerisme-beleggingsberaad in Kaapstad bekendgestel met die doel om die sektor uit te brei. De Lille sê die beraad met projekte ter waarde van meer as ‘n miljard-rand beklemtoon toerisme se rol in ekonomiese hervorming en werkskepping. Sy het aan SABC News gesê projekte soos digitale hervorming en jeuggedrewe vernuwing sal Suid-Afrika as ‘n wêreldklas-toerismebestemming posisioneer:
# Krieket: Suid-Afrika se T20-kaptein, Aiden Markram, sê die SA20 gee meer spelers die geleentheid om hulle vaardighede ten toon te stel en die poel vir die nasionale span te vergroot. Die veelsydige speler, wat op gister se spelerveiling vir ‘n reuse-14-miljoen-rand aan Durban’s Super Giants verkoop is, het gepraat voor vandag se eerste T20 teen Engeland in Cardiff, Wallis. Markram sê die SA20 help onervare spelers om aan die groot verhoog blootgestel te word en hulle voor te berei vir internasionale deelname. Vanaand se wedstryd begin 7.30.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-584-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-646-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-87-sent per vat.
# En laastens: Hongkongse wetgewers het ‘n wetsontwerp verwerp wat beperkte regte aan selfdegeslag-paartjies sou toestaan. Die streeksregering het wetgewing voorgestel wat sekere regte aan selfdegeslag-lewensmaats sou erken, maar slegs aan verbintenisse wat in die buiteland geregistreer is. LGBTQ-aktiviste het die beperkings afgekraak terwyl die voorstel bykans algehele kritiek van pro-Beijingse politici gekry het wat die Hongkongse wetgewer oorheers. Die wetgewing sou aan geregistreerde selfdegeslag-paartjies meer regte gee met mediese sake en na-doodse reëlings, soos om ‘n lewensmaat in die hospitaal te besoek of die liggaam na afsterwe te eis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….