Nuus 17:00
BULLETIN 5 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bekende Johannesburgse insolvensie-prokureur doodgeskiet
# Mashatile moedig boere aan om met die regering saam te werk om grondhervorming te bespoedig
# En, AfriForum eis nasionale ondersoek na rol van die polisie in veediefstal
# Die vooraanstaande insolvensieprokureur, Bouwer van Niekerk, is by die Smit Sewgoolam-regsfirma se kantore in Saxonwold, Johannesburg, doodgeskiet. Van Niekerk het bekendheid verwerf vir sy hantering by hoëprofielsake oor die sakeredding van maatskappye met Gupta-bande. Hy het die sakereddingspraktisyns verteenwoordig in hul regstryd teen instellings wat met die Guptas verbind word en was betrokke by die verkoopproses van Gupta-bates in die mynbedryf. Besonderhede oor die motief is nog nie bekend nie en die ondersoek duur voort.
# Adjunk-president Paul Mashatile vra kommersiële boere om met die regering saam te werk om grondhervorming te versnel. Mashatile het op ‘n besoek van drie dae aan die Overberg-gebied in die Wes-Kaap die versekering gegee dat Suid-Afrika nie Zimbabwe sal volg met grondbesetting nie. Hy sê die regering sál vir grond onderhandel. Hy het ook erken dat foute vroeër begaan is met begunstigdes van grondhervorming wat nie die nodige regeringshulp ontvang het nie.
# Die burgerregtegroep AfriForum vra ‘n nasionale ondersoek na die polisie se betrokkenheid by veediefstal. Dit volg ná die inhegtenisneming van Konstabel Siyabonga Cindi van die veediefstaleenheid op Standerton, wat beskuldig word van die diefstal van beeste ter waarde van 450-duisend-rand. AfriForum het vorige veroordelings en inhegtenisnemings aangehaal van polisiebeamptes wat met veediefstal verbind word. Jacques Broodryk van AfriForum waarsku polisie-medepligtigheid ondermyn boere se oorlewing en openbare vertroue en dring aan op dringende, deursigtige optrede om korrupsie uit te roei:
# Die Amerikaanse president Donald Trump gaan vandag ‘n uitvoerende bevel onderteken wat die Departement van Verdediging se naam na die Departement van Oorlog sal verander. Dit was die naam van die departement in die 1940’s. Volgens dokumente wat deur die BBC gesien is, is die doel daarvan om “krag en vasberadenheid uit te beeld”. Die nuwe naam sal aanvanklik as ‘n “sekondêre titel” gebruik word terwyl die administrasie wag vir kongresgoedkeuring vir die permanente verandering. Amerikaanse media verwag dit sal nagenoeg een-miljard-dollar kos om die name te verander van honderde agentskappe, embleme, e-posadresse en uniforms.
# Sokker: Bafana Bafana speel vanaand in Bloemfontein teen Lesotho in ‘n kritieke FIFA Wêreldbeker-kwalifiseerder. Bafana Bafana loop met 13 punte voor in Groep C, terwyl die Krokodille vyfde lê met 6 punte. Beserings in die span het veranderings genoodsaak, met Sipho Mbule wat Patrick Maswanganyi vervang. Thabo Moloisane staan in vir Ime Okon. Die afskop is om sesuur. Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê die groep weet hulle móét wen en sal Lesotho nie onderskat nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-054-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-580-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….