Nuus 17:00
BULLETIN 3 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum en Saai vra internasionale sanksies teen Julius Malema
# Die DA ondersoek ‘n rassistiese video van ‘n Stellenbosse munisipale amptenaar
# En die Gautrein se uitbreiding is bevestig na Roodepoort, Soweto, Fourways en Mamelodi
# AfriForum en die Suider-Afrika Agri-inisiatief, Saai, het planne aangekondig om die ‘Kill the Boer’-kreet internasionaal te beveg en vra geteikende sanksies teen die leier van die EFF, Julius Malema. Hulle het die Malema-dossier bekend gestel wat besonderhede gee van haatspraak, korrupsie en die ondersteuning van terrorisme. Ernst van Zyl van AfriForum sê hulle sal die dossier in Europa en Amerika voorlê. Hy verwys na die Konstitusionele Hof se versuim om Malema aanspreeklik te hou:
# Die DA is bekommerd oor ‘n video wat na bewering ‘n amptenaar van die Munisipaliteit Stellenbosch wys wat rassistiese uitsprake maak en onwettige arbeidspraktyke bevorder. Willie Aucamp van die DA sê sulke uitsprake is strydig met hulle waardes van nie-rassigheid en regverdigheid. Aucamp sê die DA pas nie kaderontplooing toe nie en verwag ‘n bekwame en onafhanklike staatsdiens. Hy dring aan dat aanstellings op meriete, vaardighede en grondwetlike waardes moet berus, en nie volgens ras of politieke verbintenis nie:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê die provinsiale regering het planne bevestig om die Gautrein se diens uit te brei na Roodepoort, Soweto, Fourways, en Mamelodi in Tshwane. Die projek beoog om openbare vervoer te verbeter en die provinsiale vervoernetwerk te integreer om beter skakeling en dienste aan pendelaars te bied. Lesufi het die media meegedeel dat die voorkeurbieër vir die uitbreiding binnekort aangekondig sal word:
Nuus uit die buiteland:
# Brittanje het nuwe sanksies aangekondig teen Russiese amptenare en jeugorganisasies wat gekoppel word aan Moskou se beweerde beleid om Oekraïense kinders te deporteer, indoktrineer en militariseer. Westerse regerings en aktiviste het Moskou beskuldig dat hulle kinders met geweld na Russiese grondgebied gedeporteer het nadat hy die buurland in Februarie 2022 binnegeval het. Die Internasionale Strafhof in Den Haag het in 2023 ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van die Russiese president, Vladimir Putin, uitgereik oor die ontvoering van Oekraïense kinders. Die Britse regering het sanksies ingestel teen agt persone en drie organisasies.
Nou sportnuus:
# Die Verenigde Rugbykampioenskap het bevestig dat SA Rugby die liga se sesde aandeelhouer geword het. Die ander is die unies van Ierland, Italië, Skotland en Wallis, en CVC Capital Partners. Suid-Afrika se betrokkenheid duur reeds sedert 2018 toe die Cheetahs en die Southern Kings by die PRO14 aangesluit het. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, beskryf dit as ‘n rooiletterdag vir Suid-Afrikaanse rugby met die voltooiing van ‘n reis wat agt jaar gelede begin het toe hulle ‘n toekoms in die noordelike halfrand begin oorweeg het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-412-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-556-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….