Nuus 17:00
BULLETIN 2 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Weermag gaan in November militêre oefeninge doen saam met Rusland en China
# Minister de Lille verseker die Parlement daar is nie ‘n krisis in Toerisme se leierskap nie
# En krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc tree uit T20-wedstryde
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gaan in November voort met gesamentlike Vlootoefeninge met Rusland en China, wat met die G20-beraad sal saamval. Volgens News24 sal die oefeninge in die Wes-Kaap plaasvind en waarskynlik meer spanning met Amerika veroorsaak, wat onlangs sy laaste militêre oefening met Suid-Afrika gekanselleer het. Die Weermag voer aan die oefeninge is deel van ‘n gebalanseerde buitelandse beleid, maar die tydsberekening laat hernude vrae ontstaan oor Suid-Afrika se bewering van neutraliteit in globale sake.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het die Parlement se Toerismekomitee verseker daar is geen krisis by SA Toerisme nie. Dit volg op die aanstelling van ses tussentydse lede wat deur die Toerisme-sakeraad benoem is om toesig te hou oor die instelling tot ‘n nuwe raad aangewys word. De Lille sê die privaat en die openbare sektor is verenig agter die Toerisme-groeivennootskapsplan:
# Die DA vra die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, om te verduidelik waarom 1,7-miljard-rand wat bedoel is vir een-duisend-750 nuwe gesondheidsposte nie personeelgetalle in openbare hospitale verhoog het nie. Die party sê hospitale bly kritiek onderbeman, met meer as 27-duisend vakatures, insluitend twee-duisend dokters en 17-duisend verpleegkundiges. Michéle Clarke van die DA sê daar is ernstige tekorte by die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal in Durban, waar chirurgie en kritieke sorg erg geraak word. Clarke eis ‘n volledige uiteensetting van hoe die geld bestee is.
# Die Padvragvereniging verwelkom die daling in brandstofpryse vir September. Die petrolprys daal om middernag met vier-sent per liter vir 93- en 95-oktaan. Dieselpryse daal met 56- tot 57-sent per liter en lampolie se groothandelprys kom af met 37-sent per liter. Kevin van der Merwe van die vereniging sê die daling bring welkome verligting vir die padvragbedryf:
# Krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc het sy uittrede uit T20-internasionale wedstryde aangekondig om te fokus op die toets- en die eendag-formaat . Die 35-jarige het nog nie weer ‘n T20 gespeel sedert verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in die Karibbiese Eilande nie. Starc sê hy sien uit na die toer teen Indië, die reeks om die As en die eendag-Wêreldbekertoernooi in 2027 en hy dink dis die beste pad vorentoe om vars en fiks te bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-252-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-482-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….