Nuus 17:00
BULLETIN 1 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse daal Woensdag
# Die regering verskerp stappe teen bek-en-klouseer
# En krieket: Die prysgeld vir die Wêreldbekertoernooi vir vroue verhoog tot 244-miljoen-rand
# Die Departement Minerale Bronne en Energie het aangekondig die prys van 93- en 95-oktaan petrol daal Woensdag met vier-sent per liter. Diesel word ook goedkoper, met tussen 56- en 57-sent per liter, afhangend van die swael-inhoud. Lampolie se groothandelprys daal met 37-sent per liter en die kleinhandelprys met 49-sent. Vloeibare gas sal die grootste prysdaling ondervind, met een-rand-32-sent per kilogram.
# Suid-Afrika se staalreus, ArcelorMittal, sal na verwagting teen die einde van die maand die sluiting van sy langstaal-bedryf afhandel. Dit sal drie-duisend-500 werkers raak in Newcastle in KwaZulu-Natal, Vereeniging in Gauteng en die spoorweg- en struktuur-eenheid. Pogings om die onderneming te red, insluitend regeringsondersteuning, het misluk. Die uitvoerende hoof, Kobus Verster, skryf dit toe aan voortdurende verliese, hoë elektrisiteits- en spoorwegkoste en goedkoop invoere. Die maatskappy het die eerste helfte van vanjaar meer as ‘n miljard-rand verloor en beplan om nie-kernbates te verkoop om op sy hoofstaalbedryf te fokus.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die regering gryp in om die verwoestende bek-en-klouseer-uitbreking te bekamp. Hy het 274 onopgeloste gevalle in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga bevestig. Steenhuisen sê ook die oorblywende 400-duisend entstofdosisse uit Botswana is ontvang, met 50-duisend wat reeds versprei is. Hy sê die oorblywende dosisse is op uitbrekingsbrandpunte in die Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en Gauteng gemik:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se nuwe aanlyn registrasie vir organisasies sonder winsbejag is van vandag af in bedryf. Dis ooreenkomstig die departement se strategie om sy diens te digitaliseer vir beter dienslewering, toeganklikheid en aanspreeklikheid. Die departement se woordvoerder, Lumka Oliphant, sê die organisasies sal voordeel trek uit die stelsel se integrasie met ander reguleringsliggame soos die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Departement van Binnelandse Sake:
# Krieket: Die prysgeld vir die Wêreldbekertoernooi vir vroue gaan die mansuitgawe oortref met algehele prysgeld van 244-miljoen-rand. Die Internasionale Krieketraad het aangekondig die pryspot is vermeerder van die 62-miljoen-rand in 2022 en is nou meer as die 176-miljoen-rand van die laaste mans-Wêreldbekertoernooi. Die 13de uitgawe van die vroue-toernooi begin op 30 September in Indië en Sri Lanka. Die wenners sal 88-miljoen-rand ontvang. Dit is ‘n toename van 239-persent van die prysgeld wat Australië in 2022 gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-511-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-477-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….