Nuus 17:00
BULLETIN 29 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society sê die moordsyfer in SA is byna vier keer hoër as wêreldwye terreursterftes
# Brittanje verbied die Israelse regering by ‘n groot wapenskou in Londen
# En Rugby: Hulpafrigter Tony Brown beskou die toets op Edenpark as die Bokke se grootste sedert die Wêreldbekertoernooi
# Action Society sê die moordsyfer in Suid-Afrika is tans hoër as die sterftes deur wêreldwye terrorisme. Die burgerregtegroep sê verlede jaar is meer as 26-duisend mense vermoor, byna vier keer meer as die dodetal weens wêreldwye terreur. Juanita du Preez van Action Society waarsku geweldsmisdaad het in die afgelope dekade gestyg en het meer as 250-duisend-lewens geëis. Du Preez vra alle Suid-Afrikaners om verandering te eis deur sy dekade van agteruitgang-veldtog:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die Stad Kaapstad en nasionale departemente gemagtig om uitsettingskennisgewings te beteken aan buitelandse burgers wat in tente op staatsgrond woon. Ongeveer 160 mense bly op Wingfield in Maitland en ongeveer 200 in Paint City in Bellville. Die kennisgewings sal in verskeie vertaalde tale beteken word. Die mense is tydens die Covid-19-inperking hervestig nadat hulle uit Groentemarkplein en die Sentrale Metodistekerk gesit is. Baie het repatriasie of plaaslike herintegrasie van die hand gewys en eerder hervestiging in ander lande gesoek.
# Die Britse regering het Israelse amptenare verbied om volgende maand ‘n groot wapenskou in Londen by te woon. ‘n Regeringswoordvoerder het aan CNN gesê die Israelse regering se besluit om sy militêre operasie in Gaza verder uit te brei is verkeerd en gevolglik sal geen Israelse afvaardiging genooi word om die skou by te woon nie. Israel was voorheen ‘n groot teenwoordigheid op die Verdedigings- en Sekerheidstoerusting-internasionale uitstalling. Israel se Ministerie van Verdediging sê die beperkings kom neer op doelbewuste en betreurenswaardige diskriminasie teen die land se verteenwoordigers.
# Rugby: Die Springbokke se hulpafrigter, Tony Brown, beskou volgende Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Auckland as Suid-Afrika se grootste sedert hulle Wêreldbeker-oorwinning in 2023. Nieu-Seeland het sedert 1994 nog nie op Edenpark verloor nie, terwyl die Bokke in 1937 laas daar kon wen. Suid-Afrika het die Kiwi’s in hul laaste vier ontmoetings verslaan, insluitend die Wêreldbeker-eindstryd en twee keer verlede jaar. Brown sê die Bokke is opgewonde terwyl die All Blacks desperaat is vir ‘n oorwinning, en hy verwag ‘n reuse-stryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-528-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-418-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Suid-Kaap het ‘n splinternuwe platform geskep om indringerplante uit te roei. Die platform het ʼn waagmoedige, voorlopige visie om 30-persent van die indringerplante op die Tuinroete teen 2030 uit te wis. Dit sal die bewaring van bioverskeidenheid, watersekerheid en vermindering van veldbrande ondersteun. Burgemeester Andrew Stroebel sê indringerplante het meer aggressief toegeneem, wat die gevaar van veldbrande verhoog:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….