Nuus 17:00
BULLETIN 28 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom se tariewe styg met 8,8-persent na Nersa foute erken
# Die Indiese regering steun Ahmedabad om 2030 se Statebondspele aan te bied
# En Suid-Afrika se eerste robot-operasie op ‘n nierskenker word in die Tygerberg-hospitaal uitgevoer
# Eskom se elektrisiteitstariewe gaan die volgende twee boekjare met 8,8-persent styg nadat die energiereguleerder, Nersa, foute in sy vroeëre prysbepaling identifiseer het. Die verhoging, hoër as die vyf- en ses-persent wat aanvanklik aangekondig is, volg op ‘n skikking buite die hof. Nersa sê die aanpassing stel die nutsmaatskappy in staat om ‘n bykomende 54-miljard-rand oor twee jaar te verhaal. Geen openbare raadpleging is gehou nie weens die regsproses, maar die gefaseerde verhoging is bedoel om Eskom se inkomstebehoeftes met verbruikersbeskerming te balanseer.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, het bevestig onderwysposte sal nie verminder word vir die volgende akademiese jaar nie. Die provinsie sal die 35-duisend-934 poste behou, en skole sal môre hul personeeltoewysings ontvang. Maynier sê hierdie besluit volg ná raadpleging met onderwysvakbonde en skoolbeheerliggame en is daarop gemik om bestendigheid vir leerders te handhaaf ondanks fiskale onsekerheid:
# Die president van die vakbond Nehawu, Mike Shingange, sê hulle sal nie gedwing word om ‘n kollektiewe ooreenkoms te teken wat afleggings in die Staatsdiens toelaat nie. Hy het die vakbond se mandaat beklemtoon om werkers te verenig, te beskerm en vir hulle te veg. Shingange het gewaarsku teen die vermomming van gedwonge afleggings as vrywillige skeidingspakkette, en bygevoeg dat werknemers nie gedwing moet word om vroeg te vertrek nie. Hy waarsku dat dit onrus in die Staatsdiens veroorsaak:
# Statebondspele: Die Indiese regering het sy gewig agter die land se bod ingegooi om die Statebondspele in 2030 aan te bied in die hoop dat dit besighede sal bevoordeel en ‘n nuwe generasie atlete sal inspireer. Die westelike stad Ahmedabad is as gasheerstad goedgekeur, met die meeste van die aksie wat beplan word vir die Narendra Modi-stadion, wat 132-duisend toeskouers kan akkommodeer. Nieu-Delhi se aanbieding van die Spele in 2010 is gekenmerk deur bewerings van korrupsie en wanbestuur, en die regering hoop om die saak oor vyf jaar reg te stel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-209-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-403-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Uroloog van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, Danelo du Plessis, het Suid-Afrika se eerste robotiese skenker-nefrektomie suksesvol uitgevoer in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad. Hy het die Da Vinci Xi-robotstelsel gebruik om ‘n gesonde nier van ‘n 45-jarige ma vir haar 24-jarige dogter te verwyder. Dit beteken ‘n groot sprong vir pasiëntesorg en chirurgiese vernuwing. Du Plessis sê die minimaal- indringende chirurgie verminder die hersteltyd en die skenker is die volgende dag ontslaan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….