Nuus 17:00
BULLETIN 27 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakeliga daag die Nasionale Gesondheidsversekeringwet in die hof uit
# Jannie Mouton se stigting bied sewe-miljard-rand aan om Curro-skole oor te neem
# En rugby: Die Bokke land in ‘n opgeruimde luim in Auckland
# Sakeliga het ‘n aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering ter syde te stel. Hy voer aan dit kom neer op die nasionalisering van gesondheidsorg en verbied privaat mediese skemas. Sakeliga sluit hom aan by hospitale, mediese skemas en beroepslui in hul teenkanting teen die wet. Die organisasie waarsku die plan sal ‘n verhoging van 30-persent in inkomstebelasting vereis, ‘n fiskale krisis inhou en geskoolde mediese praktisyns oorsee dryf. Die organisasie vra die herroeping van die wet om Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel, ekonomiese bestendigheid en sakevryheid te beskerm.
# ‘n Trust van die bekende sakeman Jannie Mouton het sewe-miljard-rand aangebied om Curro se aandeelhouers uit te koop en Suid-Afrika se grootste onafhanklike skool-onderneming te omskep in ‘n organisasie sonder winsbejag. Die transaksie, wat gedeeltelik in kontant en Capitec-aandele betaal word, beskik oor ‘n 60-persent-premie. Curro se bestuur steun die aanbod en voel dit sal die onderneming toelaat om winste te herbelê om meer skole te bou, beurse te verskaf en toegang tot onderwys te verbeter. Aandele het met meer as 50-persent gestyg ná die nuus.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om dringend ‘n nuwe voorsitter vir die Nasionale Loteryekommissie aan te stel. Dit volg nadat Barney Pityana verlede week bedank het met twee jaar van sy termyn van vyf jaar oor. Claude Naicker van die vakbond sê Pityana se drie jaar van diens het nie die Loteryekommissie bestendig gemaak nie en bewerings van korrupsie hang nog daaroor:
# Die Vryheidsfront Plus sê Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir die Omgewing en Argitektuur, Obakeng Ramabodu, moet persoonlik verantwoordelik gehou vir die regskoste wat gevolg het na die omstrede aanklag oor ‘n skoonmaakheffing. Die Hooggeregshof in Pretoria het vroeër die maan in die guns van AfriForum uitspraak gelewer en die metro se heffing van 194-rand per maand onwettig verklaar. Maandag het dieselfde hof die metro se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys. Grandi Theunissen van die VF Plus sê Ramabodu moenie agter die metro probeer skuil nie:
# Rugby: Die Springbokke het in ‘n opgeruimde luim in Auckland, Nieu-Seeland, aangeland teen middernag plaaslike tyd en is opgewonde oor die uitdaging om hul aartsvyande, die All Blacks, in twee agtereenvolgende Rugbykampioenskapstoetse te pak. Die Bokke het die lang reis van Suid-Afrika na Auckland via Sydney, Australië, onderneem en sal môre in die gimnasium oefen en herstel voor hulle Vrydag hulle eerste oefening op die veld het. Die Bokke pak die All Blacks volgende Saterdag op Edenpark en ‘n week later in Wellington.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-en-49-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-379-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….