Nuus 17:00
BULLETIN 26 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Statistikus-generaal stel ‘n skerp toename in seksuele oortredings bekend, met ‘n vermindering in moorde
# Die Verkiesingskommissie ontvang ‘n skoon oudit vir die vyfde agtereenvolgende jaar
# En OUTA waarsku die krisis by SA Toerisme dui op ‘n verbrokkeling van staatsinstellings
# Die Statistikus-generaal, Risenga Maluleke, het ‘n toename van 55,3-persent in seksuele oortredings bekend gemaak. Huishoudings wat inbrake ondervind het, het met een-persent verlaag en moorde het met 11,9-persent verminder. Maluleka het met die aanbieding van die Slagoffers van Misdaad-verslag in Pretoria gesê die opname sluit onaangemelde misdade in wat dikwels nie by polisie-data ingesluit word nie. Maluleke sê byna 73-duisend huishoudings het die laaste vyf jaar seksuele misdade aangemeld, ‘n vermeerdering vanaf 47-duisend:
# Die Verkiesingskommissie het die vyfde agtereenvolgende jaar ‘n skoon oudit vanaf die Ouditeur-generaal ontvang. Die oudit dek die kommissie se finansiële state vir 2024/25, insluitend die befondsing van politieke partye. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê hierdie uitkoms bevestig die OVK bestuur sy openbare hulpbronne verantwoordelik en in ooreenkoms met wetlike vereistes:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê die minister van Toerisme, Patricia de Lille, se skielike ontbinding van Suid-Afrikaanse Toerisme se raad dui op ‘n kommerwekkende verbrokkeling van bestuur in staatsinstellings. Volgens die organisasie is die raad, wat besig was om ernstige wangedrag deur die uitvoerende hoof, Nombulelo Guliwe, aan te pak, as gevolg van tegniese redes verwyder, wat die sektor kwesbaar laat. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê die skuif skep onsekerheid in die toerismesektor:
# Die Konstitusionele Hof het die Lungu-familie se aansoek van die hand gewys vir ‘n regstreekse appèlaansoek teen ‘n volbankuitspraak wat die Zambiese regering se reg erken om oudpresident Edgar Lungu se liggaam vir ‘n staatsbegrafnis te repatrieer. Die hof het bevind die familie het nie ‘n sterk saak gestel vir ‘n regstreekse aansoek nie, wat beteken die gevestigde regsproses sal voortgaan sonder die omseiling van appèlprotokolle. Hierdie besluit laat die regering toe om voort te gaan met sy planne, ondanks die familie se besware.
# Rugby: Die slot Will Skelton sal albei die Wallabies se Rugbykampioenskaps-wedstryde teen Argentinië misloop nadat hy besluit het om na sy Franse klub, La Rochelle, terug te keer vir die Top 14-seisoen. Dit is nog nie seker of hy vir die twee Bledisloebeker-toetse teen Nieu-Seeland sal terugkeer nie. Die Wallabies is tans tweede op die punteleer na die All Blacks na gemengde uitslae teen die Springbokke in Suid-Afrika. Skelton word gesien as ‘n belangrike speler vir Australië se hoop om die kampioenskap te beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-982-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-371-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….