Nuus 17:00
BULLETIN 25 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ACSA behaal ‘n rekord wins van 1,1-miljard-rand vir die vorige boekjaar
# Twintig mense sterf in Israelse lugaanvalle op ‘n hospitaal in Gaza
# En krieket: Die Protea-vroue berei in Durban voor vir die Wêreldbekertoernooi
# Die Lughawensmaatskappy Suid-Afrika het ‘n rekord wins van 1,1-miljard-rand aangeteken vir die jaar wat op 31 Maart geeïndig het. Dit is meer as dubbel verlede jaar se wins van 472-miljoen-rand. Uitvoerende hoof Mpumi Mpofu het met die bekendstelling van ACSA se jaarlikse syfers gepraat. Mpofu sê die goeie inkomstegroei van 13-persent tot 7,9-miljard-rand, gedissiplineerde kostebestuur en kapitaalbesteding van 861-miljoen-rand bevestig ACSA se verbintenis tot lughawe-infrastruktuur, operasionele uitmuntendheid en die nastreef van ekonomiese groei:
# Business Leadership South Africa sê die toekenning van elf spoorgleuwe aan privaat operateurs is ‘n belangrike stap vorentoe vir Suid-Afrika se logistieke plan, maar benodig volgehoue stukrag om suksesvol te wees. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso sê in haar weeklikse nuusbrief die ontwikkeling, wat samewerking met Transnet benodig, kan spoorvolumes verhoog, logistieke kostes verminder, verkeersopeenhoping op paaie verminder en werksgeleenthede skep. Mavuso beklemtoon dat vinnige instelling in ooreenstemming met hawe- en grens-verbeterings is noodsaaklik vir doeltreffende en groei-gedrewe logistieke stelsels.
# City Power in Johannesburg het sy beste vertoning van die laaste vyf jaar bereik deur 88-persent van sy doelwitte te haal van Januarie tot Maart. Dit is ondanks uitdagings soos stygende elektrisiteitskoste, diefstal en opsetlike beskadiging. Die kragvoorsiener het drie-duisend-539-huishoudings van elektrisiteit voorsien, meer as ‘n duisend openbare ligte aangebring, slimmeters gekoppel en hernubare energieprojekte by die stelsel ingesluit. Woordvoerder Isaac Mangena sê City Power sal voortgaan om dienslewering te versterk en Johannesburg se kragnetwerk te moderniseer:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 20 mense, insluitend vier joernaliste, is volgens berigte dood in Israelse aanvalle op ‘n hospitaal in die suidelike Gazastrook. ‘n Kameraman van Reuters en ‘n joernalis van Associated Press het gesterf in die aanval op die Nasser-hospitaal, en ‘n ander het glo vir Al Jazeera gewerk. Verskeie mense is in die aanvanklike aanval dood en ander in ‘n tweede aanval wat plaasgevind het terwyl reddingswerkers op die toneel was. Dit volg twee weke nadat ses joernaliste in ‘n Israelse aanval naby die al-Shifa-hospitaal in Gaza-stad dood is.
# Krieket: Die Protea-vrouespan het vandag in Durban byeengekom vir ‘n weeklange kamp waar hulle hul spel sal verfyn voor volgende maand se Wêreldbekertoernooi in Indië. Die veteraan-paaltjiewagter Sinalo Jafta sê die toestande in Durban weerspieël dié op die subkontinent en help die span om aan te pas. Die vroue, wat laas op die Karibiese Eilande mededingend gespeel het, beoog nou om rolle, tegniese vaardighede en strategie te verskerp. Jafta beklemtoon die behoefte aan onverskrokke hoëvlak-krieket soos met ‘n eendagtoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-632-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….