Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dwelm-magnaat Fadwaan Murphy is tot 18-jaar tronkstraf gevonnis
# Die OVK bevestig Umkhonto weSizwe se deelname aan die verkiesing hang af van ‘n hofuitspraak
# En, tennis: Die kwarteindstryde van die Australiese Ope kry beslag
# Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap het die dwelm-magnaat, Fadwaan Murphy, tot 18-jaar tronkstraf gevonnis en met twee-miljoen-rand beboet vir dwelmhandel en geldwassery. Sy eksvrou, Shafieka Murphy, is 15-jaar tronkstraf opgelê Die hof het gelas die boete en gepaardgaande koste moet van hul onderneming, Ulterior Trading Solutions, verhaal word. Die paar, wat op verskeie aanklagte skuldig bevind is, se onwettige bedrywighede is as vernietigend vir gemeenskappe beskou. Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die beskuldigdes appelleer, en die saak sal Maandag vir verdere betoë aangehoor word:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het Umkhonto weSizwe se registrasie om aan die algemene verkiesing van 2024 deel te neem bevestig. Die OVK se voorsitter, Mosotho Moepya, het egter aan Newzroom Afrika gesê twee hofsake moet nog afgehandel word, wat sal beslis oor die party se geskiktheid vir deelname. Die party spreek ten spyte van die hangende regsuitdagings, vertroue uit en is vasbeslote in sy verbintenis om aan die komende verkiesing deel te neem:
# Winnie Madikizela-Mandela se kleinkinders twis oor haar boedel. Hulle beskuldig hulle tannie, Zenani Mandela-Dlamini, daarvan dat sy bates wegsteek, insluitende die huis in Soweto, asook voertuie en individuele items met sentimentele waarde. Die mede-eksekuteur van die boedel, Zondwa Mandela, het ʼn interdik aangevra en voer aan daar is ʼn gebrek aan betrokkenheid, asook die verwydering van bates sonder goedkeuring. Hy beweer daar is ʼn gebrek aan vordering om Madikizela-Mandela se boedel af te handel, vyf jaar na haar dood. Zenani Mandela-Dlamini en prokureurs beplan om Zondwa Mandela se hofaansoek teen te staan.
# Die Europese Unie se Beleidshoof vir Buitelandse Sake, Josep Borrell, dring aan op ‘n tweestaat-oplossing in die Israel-Palestina-konflik. Hy sê Israel se plan om die Palestynse groep Hamas in Gaza te vernietig werk nie. Borrell het voor samesprekings met Israeliese en Palestynse topdiplomate, gesê Israel kan nie slegs deur militêre middele vrede bou nie. Die EU se 27 ministers van Buitelandse Sake hou afsonderlike vergaderings met hul eweknieë van Israel, die Palestynse Owerheid en sleutel Arabiese state in Brussel, België, terwyl die geweld in die Gaza-strook voortduur.
# Tennis: Daar was oorwinnings in die vierde ronde van die Australiese Ope vir Carlos Alcaraz van Spanje, Daniil Medvedev van Rusland, Alexander Zverev van Duitsland en Hubert Hurkacz van Pole. Die tweede gekeurde, Alcaraz, het maklik afgereken met die Serwiër, Miomir Kecmanovi, terwyl Medvedev vier stelle nodig gehad het om Nuno Borges van Portugal uit te skakel. Cameron Norrie van Brittanje het vir vyf stelle hard gespook teen Zverev voor die Duitser die wedstryd in die valbylpot kon beklink, en Hurkacz het die belowende Fransman, Arthur Cazaux, getroef. Die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, speel vroeg môreoggend in die kwarteindronde teen Taylor Fritz van Amerika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-106-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-24-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….