Nuus 17:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Jong vrou sterf nadat sy tydens die Bokke se trofeetoer in Oos-Londen beseer is
# Plaasaanvalle in Suid-Afrika het in die derde kwartaal met 21-persent gestyg
# En, krieket: Die Proteas is gereed om Australië te pak vir ‘n plek in die Wêreldbeker-eindstryd
# ’n Jong vrou het gesterf nadat haar been vergruis is tydens die Springbokke se Webb Ellis-trofeeparade in Oos-Londen en dit geamputeer moes word. Die 20-jarige Minentle Noqhamka het op ‘n Njala van die polisie probeer klim wat die rugbyspelers se toerbus vergesel het, en toe onder die voertuig beland. Ander mense is ook beseer in die voorval naby die stadsaal. Noqhamka was ‘n student aan die Walter Sisulu Universiteit. Sizwe Kopela van die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement sê haar dood word toegeskryf aan onnatuurlike oorsake en ’n lykskouing sal uitgevoer word.
# AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die toename in plaasmoorde gedurende die derde kwartaal van vanjaar. Volgens die organisasie se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, was daar ‘n toename van 21-persent in plaasmoorde vergeleke met die tweede kwartaal. AfriForum se Afdeling Gemeenskapsveiligheid het tussen Julie en September 88 plaasaanvalle aangeteken, insluitend 13 moorde, terwyl daar tussen April en Junie 73 plaasaanvalle was wat 23 moorde ingesluit het. Broodryk beklemtoon die belangrikheid van die uitbreiding van strukture vir gemeenskapsveiligheid as gevolg van hierdie statistieke:
Speel klankgreep: AFR-BroodrykOnFarmMurders
# ActionSA skop vandag die elkeen-bring-een-veldtog af en versoek sy 250-duisend lede om persoonlik ten minste een ongeregistreerde persoon saam te bring na die registrasiepunte hierdie naweek. Lede word ook aangemoedig om hierdie burgerlike oomblik op sosiale media vas te vang en te deel, deur die party op hule foto’s in te sluit. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die veldtog het ten doel om kiesersregistrasie ‘n hupstoot te gee en ‘n gevoel van persoonlike verantwoordelikheid vir positiewe verandering te vestig:
Speel klankgreep: ENG BeaumontOnCampaign
# Krieket: Suid-Afrika kom môre teen die vyfmalige kampioen, Australië, te staan in die tweede halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi in Indië. Die Proteas het in die groepfase tweede op die punteleer geëindig, na ʼn paar indrukwekkende vertonings. Die een onbeantwoorde vraag is oor Suid-Afrika se vermoë om ʼn wenteiken te jaag. Hulle het tweede gekolf in albei wedstryde wat hulle verloor het – teen Nederland en die gashere. Die Proteas se afrigter, Rob Walter, sê dis belangrik dat iemand ʼn ankerbeurt speel:
Speel klankgreep: ENG Rob Walter
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-135-dollar-50-sent. Die prys van goud is een-duisend-971-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-10-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ʼn Sabeltandkatspesie is na die paleobioloog van die Universiteit van Kaapstad, Anusuya Chinsamy-Turan, vernoem. Chinsamy-Turan, van die Departement Biologiese Wetenskappe, is vereer vir haar baanbrekerswerk in die uitleg van die biologie van diere wat vyf- tot sewe-miljoen-jaar gelede aan die Weskus voorgekom het. Die gefossileerde oorblyfsels van die spesie is saam met ‘n ander nuwe spesie in die Weskus-fossielpark naby die Lugmagbasis Langebaanweg opgegrawe. Hierdie genus is ook ontdek in plekke wat van Kenia tot Tsjaad strek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….