Nuus 17:00
BULLETIN 18 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika verhoog die druk op MTN oor transaksies met Iran en Afganistan in die verlede
# Die GOOD-party sê die nasionale dialoog het foute maar moet wel ondersteun word
# En rugby: Kolisi en nog drie sleutelspelers gaan die toets teen die Wallabies misloop weens beserings
# ‘n Grootjurie van die Amerikaanse Departement van Justisie ondersoek MTN oor sy vorige bedrywighede in Iran en Afganistan. News24 berig die ondersoek volg op Amerikaanse siviele regsgedinge waarin die onderneming beskuldig word dat hy beskermingsgeld aan die Taliban en al-Kaeda betaal het, hoewel MTN die bewerings ontken. Die uitvoerende hoof van die selfoonoperateur, Ralph Mupita, sê die groep word nie beskuldig van ‘n oortreding nie, maar werk ten volle saam en moet homself verdedig teen nalatenskaps-eise, insluitend ‘n regsgeding van Turkcell oor Iran se eerste privaat selfoonlisensie.
# Die GOOD-party sê die eerste nasionale dialoog-vergadering het potensiaal getoon, maar is ondermyn deur swak beplanning en ondoeltreffendheid. Volgens die party het die regering, die burgerlike samelewing en burgers by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria bymekaar gekom om oplossings vir armoede, misdaad en ongelykheid te bespreek, maar baie stemme is nie gehoor nie. Kaden Arguile van GOOD moedig die regering aan om die foute reg te stel, en vra burgers om aan betekenisvolle, inklusiewe dialoog deel te neem:
# Vyftien swaar-gewapende aanvallers het vanoggend ‘n onbekende bedrag geld, twee gewere en ‘n handwapen gesteel in ‘n transito-rooftog op Vincent Dickensonweg in Cottonlands, KwaZulu-Natal. Die woordvoerder van Reaction Unit South Africa, Prem Balram, sê beamptes het gereageer op verskeie openbare oproepe wat geweerskote en ‘n ontploffing aangemeld het, met die verdagtes wat na Ndwedwe gevlug het. Geen beserings is tot dusver aangemeld nie.
# Rugby: Nog ‘n groot terugslag het die Springbokke getref na die vernederende nederlaag teen die Wallabies, met die nuus dat kaptein Siya Kolisi en drie ander sleutelspelers nie in Saterdag se Rugbykampioenskaps-toets teen Australië in Kaapstad sal kan speel nie. Kolisi se kniebesering kan hom ‘n maand buite aksie hou en daar is twyfel of hy reg sal wees vir die twee wedstryde teen die All Blacks in Nieu-Seeland. Pieter-Steph du Toit het harsingskudding opgedoen, terwyl die vleuels Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe ook beseer is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-701-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-40-sent per vat.
# En laastens, Gauteng se LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Faith Mazibuko, sê haar departement en Binnelandse Sake sal voortgaan met operasies wat daarop gemik is om kinders wat bedel van die provinsie se strate te verwyder. Die departement se woordvoerder, Motsamai Motlhaolwa, sê hierdie naweek het die gekoördineerde operasie in Johannesburg-Noord en -Suid gelei tot die verwydering van 19 kinders en tien ma’s na aangewese plekke van veiligheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….