Nuus 17:00
BULLETIN 15 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Reëlingskomitee word verkies om die Nasionale Dialoog te lei
# Die Lungu-familie se aansoek om verlof tot appèl teen die begrafnisuitspraak word tot Maandag uitgestel
# En rugby: Toeskouers kry môre ‘n spesiale aanbod van die Gautrein en Prasa om na Ellispark op te ruk
# President Cyril Ramaphosa het bevestig dat ‘n reëlingskomitee bestaande uit burgers vandag gekies sal word om die Nasionale Dialoog te lei. Ramaphosa het by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria gesê die dialoog sal teen die laagste moontlike koste aangebied word met koste-besparingsmaatreëls wat in werking gestel is. Hy het UNISA geloof omdat hulle die vergadersaal gratis beskikbaar gestel het en sê toekomstige dialoë sal in skole, kerke en selfs in die buitelug gehou word om kostes te beperk:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het uitstel verleen in die familie van die voormalige Zambiese president, Edgar Lungu, se aansoek om verlof tot appèl teen ‘n beslissing dat sy liggaam na Lusaka gerepatrieer moet word. Die familie se regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, sê die partye het ingestem om die saak buite die hof te bespreek en Maandag terug te keer. Die familie wil Lungu in Suid-Afrika begrawe sodat die huidige Zambiese president, sy politieke mededinger Hakainde Hichilema, nie betrokke is nie, maar die Zambiese regering wil hom in sy vaderland begrawe.
# Cilliers Brink het die DA se benoeming aanvaar om die party se burgemeesters-kandidaat te wees in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Hy sê hy is vasbeslote om die werk te voltooi wat onder die DA se leierskap begin is, met die doel om dienste te verbeter, korrupsie aan te pak en infrastruktuur te herbou. Brink gee die ANC en sy koalisievennote die skuld vir wanbestuur, kragonderbrekings en die versuim om in water en elektrisiteit te belê:
Nuus uit die buiteland:
# Air Canada en sy kajuitpersoneel het nog nie tot ‘n vergelyk gekom nie ondanks regeringsversoeke dat albei partye na die onderhandelingstafel moet terugkeer. ‘n Staking kan reis-reëlings vir tien-duisende passasiers ontwrig. Kanada se grootste lugredery verwag om teen die einde van vandag 500 vlugte te kanselleer voor môre se beplande staking wat ongeveer 100-duisend-passasiers laat rondspring om alternatiewe reëlings te tref. Die redery se 10-duisend kajuitpersoneellede wil begin staak indien daar nie voldoen word aan hulle eise vir hoër salarisse en vergoeding vir onbetaalde werk nie.
# Rugby: Die Gautrein-bestuursagentskap en PRASA het saamgespan om vervoer te bied aan ondersteuners wat môre die Springbokke se Rugbykampioenskapswedstryd teen Australië op Ellispark gaan bywoon. Ondersteuners kan die Gautrein na Parkstasie neem en dan dadelik oorklim op ‘n PRASA-trein tot by die stadion. Gautrein se woordvoerder, Albi Modise, sê die veldtog bevorder veilige, gerieflike reise en verminder verkeer, met parkering by Gautreinstasies teen slegs een-rand:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-617-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….