Nuus 17:00
BULLETIN 8 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit vra Ramaphosa om in te gryp om werksverliese te keer weens Amerikaanse handelsheffings
# ATM eis ‘n ondersoek deur die openbare beskermer ná Mkhwanazi se uitlatings oor polisie-inmenging
# En rugby: Salmaan Moerat lei ‘n veranderde Bokspan in die tweede toets teen Italië
# Solidariteit vra president Cyril Ramaphosa om dringend op te tree om reuse-werksverliese te voorkom na Amerika se besluit om van volgende maand ‘n heffing van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere op te lê. Die vakbond sê die regering se gebrek aan optrede kan belangrike uitvoere belemmer en moontlik die voordele van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika prysgee. Theuns du Buisson van Solidariteit skryf dit toe aan politieke arrogansie en sê handelsbetrekkinge met Amerika geniet nie voorkeur nie:
# The African Transformation Movement het die openbare beskermer, Kholeka Gcaleka, vir ‘n volledige ondersoek gevra oor beweerde politieke inmenging deur die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Die leier van die ATM, Vuyo Zungula, sê onthullings deur die KwaZulu-Natalse kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het wangedrag, misbruik van gesag en die onwettige ontbinding van ‘n belangrike politieke moordtaakspan ontbloot. ATM noem dit een van die ernstigste bedreigings vir geregtigheid en wetstoepassing in demokratiese Suid-Afrika.
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste, Kgomotso Ramolobeng, is bekommerd oor swak infrastruktuur, oorbevolking en ‘n gebrek aan onderhoud in die land se gevangenisse. Die Departement van Korrektiewe Dienste sê verouderende geriewe en opsetlike beskadiging deur gevangenes vererger hierdie toestande. Ramolobeng sê die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, sal volgende Dinsdag voor die komitee verskyn om die krisis te bespreek en dringende oplossings voor te stel:
# President Donald Trump sê Amerika gaan bykomende wapens na Oekraïne stuur, wat Russiese kritiek ontlok het nadat Moskou beweer het hy maak vordering in die oorlog teen sy buurland. Die Kremlin waarsku om wapens na Oekraïne te stuur sal die konflik net verleng. Trump se aankondiging volg nadat Washington verlede week gesê het hy staak sekere wapenverskepings na Kiëf, wat Oekraïense amptenare onkant gevang en laat skarrel het om duidelikheid te bekom.
# Rugby: Salmaan Moerat sal ‘n veranderde Springbokspan lei in die tweede toets teen Italië in Gqeberha. Die opdrafspan sluit slegs vir Willie le Roux, Wilco Louw, Malcolm Marx, Marco van Staden en Jasper Wiese in van die span wat die eerste toets 42-24 gewen het. Edwill van der Merwe en Makazole Mapimpi is die nuwe vleuels, André Esterhuizen en Canan Moodie die senters en Manie Libbok en Grant Williams die skakelpaar. Pieter-Steph du Toit, Thomas du Toit en Ruan Nortjé is onder die voorspelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-883-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….