Nuus 17:00
BULLETIN 7 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaners word gevra om betrokke te raak by die Inkomstediens se outomatiese aanslagproses
# ActionSA finaliseer sy strategiese plan vir 2026 se plaaslike regeringsverkiesing
# En Kenia se polisie sper strate in Nairobi af tydens die jaarlikse herdenking van ‘n pro-demokratiese betoging
# Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belasting het belastingbetalers aangemoedig om deel te neem aan die Inkomstediens se outomatiese aanslagproses, wat vanaf vandag tot die 20ste duur. Die waarnemende adjunk-uitvoerende hoof, Keitumetse Sesana, het aan Newzroom Afrika verduidelik burgers wat SMS- of e-poskennisgewings ontvang, kan hul aanslae op die Inkomstediens se aanlyn navraagstelsel besigtig. Sy beklemtoon besware kan op amptelike kanale geopper word voor die ombud of regstappe oorweeg word:
# ActionSA het onderneem om voorkeur te gee aan basiese dienslewering in volgende jaar se plaaslike regerings-verkiesing na aanleiding van die ineenstorting van infrastruktuur in baie munisipaliteite. Die party het tydens die afsluiting van sy strategiese beplanningsvergadering gesê Suid-Afrikaners dring aan op betroubare dienste in plaas van politiek. Die party beplan om mislukte elektrisiteit, water, sanitasie en paaie aan te pak. Woordvoerder Michael Beaumont het die regering van nasionale eenheid gekritiseer en gewaarsku teen onbestendigheid en ‘n moontlike begrotings-ineenstorting:
# Die DA sê Gauteng het te kampe met ‘n groeiende krisis in bendegeweld en onwettige vuurwapens, veral in bruin gemeenskappe. Die party sê meer as 15 bendeverwante aanvalle is sedert September verlede jaar in gebiede soos Westbury, Eldoradopark, Orange Farm en Johannesburg-Suid aangeteken. Die DA-lid, Michael Sun, beskuldig premier Panyaza Lesufi van ondoeltreffende optrede en sê miljoene word bestee aan ongebruikte kringtelevisie-kameras en hommeltuie:
# Die Keniaanse polisie het paaie afgesper en in getalle ontplooi in die gewoonlik besige strate van die hoofstad, Nairobi, om die jaarlikse pro-demokratiese betogings te keer. AFP berig teen-onlustepolisie het traanrook op ‘n groep jong mans afgevuur, met sommige omstanders wat die polisie met klippe bestook het. Dit blyk dat baie mense liewers tuis gebly het as om die optogte by te woon. Dit herdenk 7 Julie 1990 toe Keniane tydens opstande aangedring het op die terugkeer na veelparty-demokrasie na jare se outokratiese regering deur die destydse president, Daniel Arap Moi.
# Krieket: Sanjog Gupta van Indië is as die sewende uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad aangestel. Hy volg die Australiër Geoff Allardice op, wat in Januarie bedank het. Die IKR het in Maart met ‘n internasionale werwingsproses begin om die perfekte kandidaat te vind, en het meer as twee-duisend-500 aansoeke uit 25 lande ontvang. Gupta sê dis ‘n voorreg om die kans te kry, veral terwyl krieket gereed is vir ongekende groei, onder meer sy insluiting op die Olimpiese Spele in Los Angeles in 2028.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-277-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….