Nuus 17:00
BULLETIN 3 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie mense word gevonnis vir ‘n wrede plaasaanval in Oos-Londen
# Eskom plaas druk op sonkraggebruikers om te registreer
# En rugby: Wallis hoop om Saterdag teen Japan weer op die wenpad te kom na 17 agtereenvolgende nederlae
# Die Hooggeregshof in Oos-Londen het drie mense gevonnis vir ‘n plaasaanval in Bluewater verlede jaar. Die mans is skuldig bevind aan ontvoering, poging tot moord en roof. Die aanvallers het die plaaseienaar gemartel om hom te dwing om die sleutels van ‘n kluis te oorhandig. Luxolo Tyali van die NVG sê die gesteelde goedere was meer as 2,2-miljoen-rand werd:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê haar department beoog om teen 2030 twee-miljoen werksgeleenthede te skep deur ‘n gekoördineerde nasionale indiensnemingsplan. Sy het tydens die voorlegging van haar begroting in die Parlement gesê die toewysing van vier-miljard-rand sal werkskepping ondersteun. Meth sê die Werkloosheidversekeringsfonds sal 38-miljard-rand bestuur, en beoog om vanjaar 240-duisend-werksgeleenthede te skep, veral vir die jeug, vroue en gestremdes:
# Eskom waarsku Suid-Afrikaners met netwerkgekoppelde sonkragstelsels om teen Maart volgende jaar by die Kleinskaalse Ingebedde Opwekkingsprogram te registreer, anders kan hul ontkoppeling en boetes te wagte wees. ‘n Energiekenner, Vally Padayachee, het teenoor Daily Investor bevestig Eskom beplan om ‘n bybetaling in te stel, selfs vir geregistreerde sonkraggebruikers, om netwerkonderhoud te dek. Padayachee sê Eskom beplan om sy vaste daaglikse netwerk-kostes onder die Kleinhandeltariefplan te verhoog, wat sonkraggebruikers op die netwerk sal raak. Hy sê nakoming is noodsaaklik om netwerkbestendigheid en billike infrastruktuurkostes vir alle gebruikers te verseker.
# SANParke sê die gebruik van hommeltuie in die Krugerwildtuin in Mpumalanga en Limpopo is streng verbode ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede. SANParke waarsku die ongemagtigde gebruik van hommeltuie kan die wild steur en die ervaring vir ander besoekers bederf. Enigiemand wat sonder toestemming ‘n hommeltuig die lug instuur, sal in hegtenis geneem en daar sal beslag gelê word op die toerusting. SANParke versoek die publiek om onwettige hommeltuigbedrywighede op sy noodnommers aan te meld.
# Rugby: Wallis gaan alles in die stryd werp om Japan Saterdag in Kitakyushu te klop na 17 agtereenvolgende nederlae. Die flank Josh Macleod keer na amper drie jaar terug en is in die opdrafspan. Die haker Dewi Lake is die kaptein terwyl die plaasvervanger-haker Liam Belcher die enigste nuweling in die span is. Die losskakel Sam Costelow is terug nadat ‘n besering hom uit die Sesnasiesreeks gehou het. Die waarnemende afrigter, Matt Sherratt, verwag van sy spelers om die volle 80-minute alles te gee in die verwagte warm, vogtige toestande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-706-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….