Nuus 17:00
BULLETIN 2 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Landboubemarkingsraad waarsku verhogings in die brandstofheffing sal die landbousektor benadeel
# SASSA gaan voort met die hersiening van geteikende begunstigdes se toelaes
# En rugby: Nog ‘n oortuigende oorwinning vir die Britse en Ierse Leeus in Australië
# Die Nasionale Landboubemarkingsraad waarsku verhogings in die brandstofheffing sal die landbousektor benadeel. Die raad sê 13-persent van die insetkoste is vir brandstof, en die verhoging sal produksie-, vervoer- en voedselpryse raak. Die raad sê ondanks ‘n kortingskema op diesel, sal kleinboere en landelike werkers die swaarste kry. Die raad versoek uitgebreide kortings, beter infrastruktuur en alternatiewe energie-beleggings om die bestaande druk te verlig.
Die uitvoerende direkteur van die landbou-organisasie Saai, Theo de Jager, sê intussen die reis na Amerika was om ‘n waardevoorstel aan te bied om ekonomiese migrasie te stop met behulp van die landbousektor, deur die beëindiging van armoede en hongerte in Afrika. De Jager sê landbou kan vinniger welvaart skep as enige ander sektor, maar belegging vereis sekerheid, produksiebefondsing en beleidsekerheid. Hy waarsku bedreigings soos grondonteiening sonder vergoeding en plaasaanvalle dien as afskrikmiddel vir broodnodige kapitaal:
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid sê hy sal voortgaan om maatskaplike toelaes te hersien van begunstigdes wat vermoedelik ander inkomstebronne het en dit nie aan die agentskap bekendgemaak het nie. SASSA se woordvoerder, Andile Tshona, sê hierdie geteikende begunstigdes moet by ‘n plaalike SASSA-kantoor aanmeld. Hy sê hul geskiktheid sal hersien word om vas te stel of hulle in aanmerking bly vir die maatskaplike toelaag waarvoor hulle aanvanklik aansoek gedoen het:
# Oekraïne het ‘n Amerikaanse diplomaat ontbied en sy belangrikste bondgenoot versoek om nie kritieke militêre hulp af te sny nie nadat die Withuis gesê het sekere wapenverskepings sal gestaak word. Kiëf sê dit kan sy vermoë belemmer om verergerende Russiese lugaanvalle af te weer. Moskou is verheug oor die besluit en sê dit kan die einde van die oorlog versnel. Kiëf vrees al lank dat Amerikaanse hulp gestaak sal word nadat president Donald Trump kritiek gelewer het oor die miljarde-dollar se wapens wat sy voorganger, Joe Biden, gestuur het.
# Rugby: Die Reds kon na ‘n dapper begin nie die pas volhou teen die Britse en Ierse Leeus in Brisbane nie. Die besoekers het 52-12 gewen na agt drieë teenoor die gashere se twee. Onder die driedrukkers was die Suid-Afrikaans-gebore vleuel Duhan van der Merwe, die Skotse senter Huw Jones, wat vroeër vir die Stormers gespeel het, en die speler van die wedstryd en Wallis se kaptein, Jac Morgan. Die Leeus het Western Force 54-7 afgeransel in hulle eerste toerwedstryd in Perth en speel Saterdag in Sydney teen die Waratahs.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-508-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-343-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….