Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sluit drywende gaskragkragaanlegte uit die nuwe bodvenster
# Rea Vaya-busse gaan kontantloos bedryf word
# En, tennis: Novak Djokovic is deur na die ronde van 16 in Melbourne
# Die regering het drywende gaskragkragaanlegte uitgesluit in sy heel eerste ronde vir twee-duisend-Megawatt-gaskragverkryging, met verwysing na beperkte plek in hawens. Onafhanklike Kragprodusente se regshoof, Lena Mangondo, verduidelik die eksklusiewe oorweging vir landgebaseerde projekte, en die noodsaaklikheid van permanente strukture. Sy merk verder op gasprojekte kan die mark betree nadat die 20-jaar kragkoop-ooreenkoms met Eskom gesluit is. Mangondo beklemtoon die regering bly ondanks beperkings daartoe verbind om gas by die nasionale energiemengsel in te sluit.
# Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Vervoer, Kenny Kunene, het die instel van ‘n kontantlose stelsel op die Rea Vaya-busse aangekondig om te verhoed dat bestuurders pendelaar-betalings hanteer. Hy noem vorige ontwrigtings weens arbeids- en betalingsgeskille. Kunene beloof daar sal gevolge wees vir diegene wat verantwoordelik is vir finansiële uitdagings by Pio-Trans. Hy sê die stap het ten doel om diens te stroomlyn en die doeltreffendheid van Rea Vaya te verbeter na aanleiding van voortdurende uitdagings.
# ActionSA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se oproep dat die Onafhanklike Eksamenraad of IEB se eksamen geskrap word, is net ‘n poging om die aandag af te lei van die voortslepende mislukking van die land se openbare skoolstelsel. Die IEB se 2023-matriekklas het ʼn slaagsyfer van 98,46-persent behaal, wat effens beter is as 2022 se 98,42-persent. Angela Sobey van ActionSA sê die IEB-eksamen is ʼn standaard vir wat bereik kan word deur gehalte-onderrig en leerderondersteuning:
# TLU SA sê hy erken die posisie wat regoor die wêreld ingeneem word ter ondersteuning van voedselproduserende boere. Die afgelope week het rye trekkers paaie in Duitsland versper, wat chaos in stede en ʼn kopseer vir pendelaars veroorsaak het. Volgens die landbouliggaam het elke land sy eie uitdagings wat baie boere verhinder om volhoubaar te boer. ʼn Woordvoerder van TLU SA, Bennie van Zyl, sê boere in Suid-Afrika het te doen met ʼn tekort aan elektrisiteit, onderbenutte hawens en verwaarloosde paaie wat hulle verhinder om produkte aan verbruikers te lewer:
# Tennis: Die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, het min moeite ondervind in sy wedstryd teen Tomás Martín Etcheverry in die derde ronde van die Australiese Ope. Die topgekeurde het met 6-3, 6-3, 7-6 geseëvier om na die ronde van 16 deur te dring. In die vroue-afdeling duur die Russiese tiener, Mirra Andreeva, se droomtoernooi voort. Die 16-jarige, wat die sesde gekeurde Ons Jabeur van Tunisië in die tweede ronde uitgeskakel het, het Diane Parry van Frankryk geklop om na die vierde ronde in Melbourne deur te dring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-332-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-36-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….