Nuus 17:00
BULLETIN 1 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika vra uitstel om ‘n Amerikaanse handelsooreenkoms te finaliseer voor tariefverhogings intree
# Die boubedryf se vertroue daal ondanks korttermynwinste
# En krieket: Die Proteas verniel Zimbabwe in die eerste toets in Bulawayo
# Suid-Afrika het meer tyd gevra om ‘n handelsooreenkoms met Amerika te onderhandel voor tariefverhogings van 31-persent volgende Woensdag van krag word. President Donald Trump se administrasie het die verhoging vir 90-dae uitgestel. Dit bedreig sleutel-uitvoere soos voertuie, staal en sitrus. Die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, sê in ‘n verklaring Suid-Afrika probeer tariewe beperk tot tien-persent en bied aan om vloeibare aardgas van Amerika te koop in ruil daarvoor. Onderhandelings duur voort en amptenare vra die bedryf om geduldig te bly.
# Suid-Afrikaanse siviele kontrakteurs het kommer uitgespreek oor die vooruitsigte vir die boubedryf, met die FNB/Buro vir Ekonomiese Navorsing se Siviele kontrakteurs-vertroue-aanwyser wat tussen April en Junie tot 41 gedaal het. Dit is die derde agtereenvolgende kwartaallikse daling ondanks verbeterde winsgewendheid en bedrywighede. Die aanwyser dui vertragings met tenders en ‘n gebrek aan groot infrastruktuurprojekte wat die negatiewe sentiment aanvuur. Daarbenewens het die belegging in vaste infrastruktuur oor die afgelope dekade gehalveer, wat die sektor lamlê en ondernemings tot sakeredding dwing.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die onlangse inhegteninsneming van voormalige Transnet-bestuurders, insluitend Brian Molefe en Siyabonga Gama, dui werklike vordering aan met pogings om diegene wat by staatskaping betrokke is, aanspreeklik te hou. Die Handelsmisdaadhof in Palm Ridge, Gauteng het gister borgtog van 50-duisend-rand elk toegestaan aan Molefe, Gama, Anoj Singh en Thamsanqa Jiyane. Die saak gaan oor korrupsiebewerings wat verband hou met Transnet se lokomotiefkontrakte van 93-miljoen-rand. Rudie Heyneke van OUTA sê hulle moes lankal aangekeer gewees het:
# Krieket: Die Proteas het Zimbabwe hulle ergste toetsnederlaag nóg toegedien deur hulle met 328 lopies te klop op die vierde dag in Bulawayo. Daar was talle helde vir Suid-Afrika – die speler van die wedstryd en nuweling, Lhuan-dré Pretorius, en Corbin Bosch het honderdtalle in die eerste beurt aangeteken en Wiaan Mulder nog een in die tweede. Bosch het vyf paaltjies geneem in Zimbabwe se tweede beurt toe Sean Williams 137 aangeteken het, en Mulder het vier laat spat in die gashere se eerste beurt. Die laaste toets begin Sondag, ook in Bulawayo.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-551-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Vier werknemers van die Universiteit Pretoria het 28-duisend-rand in skenkings ingesamel met hulle deelname aan die Comrades Marathon. Die geld sal na die Visekanselier en Rektor se Beursfonds gaan vir die ‘verlore middel’-studente wat nie hoër onderwys kan bekostig nie, maar wie se huishoudelike inkomste buite die finansiële kategorie vir staatsbefondsing val. André Ganswindt, Bianca Frost, Josiah Mavundla en Mfundo Nyitana het ‘n teiken van nege-duisend-rand elk gestel. Frost het haar teiken oorskry en 11-duisend-100-rand ingesamel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….