Nuus 17:00
BULLETIN 27 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verwerp die DA se ultimatum ná adjunkminister Whitfield se afdanking
# Mashatile vra groter betrokkenheid van die jeug in beleidmaking om werkloosheid en ongelykheid teen te werk
# En nog ‘n weer-waarskuwing word vir Kaapstad uitgereik
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal nie swig voor dreigemente of ultimatums oor sy grondwetlike magte om lede van die uitvoerende gesag aan te stel of te verwyder nie. Dit volg nadat hy Andrew Whitfield van die DA afgedank het as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging omdat hy sonder presidensiële goedkeuring na Amerika gereis het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het bewerings van politiekery verwerp en sê die DA-leier, John Steenhuisen, is vooraf ingelig oor die besluit:
# Adjunkpresident Paul Mashatile vra groter betrokkenheid van die jeug in beleidmaking om werkloosheid, armoede en ongelykheid teen te werk. Hy het op ‘n hoëvlak G20-gesprek in Sandton, Gauteng, beloof om jeugdeelname te integreer in alle voorkeure van die G20-presidentskap, insluitend klimaatfinansiering, handel en digitale hervorming. Mashatile vra groter belegging in die ontwikkeling van vaardighede, kunsmatige intelligensie en die groen-ekonomie om volhoubare geleenthede vir die jeug te skep:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Geel vlak-1 waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reënval in Kaapstad tot môreaand. Die woordvoerder van Ramprisikobestuur, Sonica Lategan, sê plaaslike oorstromings kan voorkom wat die gevolge van vorige storms sal vererger as gevolg van deurdrenkte grond. Stadsdienste sal vloedtoestelle en humanitêre hulp voorsien. Lategan bevestig dat sewe brandweerstasies noodsaaklike skenkings soos komberse en higiënepakkies sal ontvang om inwoners te ondersteun wat geraak word:
# ‘n Israelse hof het premier Benjamin Netanyahu se versoek verwerp om sy getuienis in sy korrupsieverhoor uit te stel nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, gevra het dat die saak uitgegooi word. Netanyahu se regsverteenwoordiger het vroeër gevra sy kliënt moet die volgende twee weke verskoon word sodat hy op veiligheidskwessies kan konsentreer na Israel se oorlog met Iran. Netanyahu en sy vrou, Sara, word daarvan beskuldig dat hulle meer as 4,6-miljoen-rand se luukse goedere soos sigare, juweliersware en vonkelwyn van miljardêrs aanvaar het in ruil vir politieke gunste.
#Motorsport: Die McLaren-renjaers Lando Norris en Oscar Piastri hou vol dat dit hulle vrystaan om met mekaar mee te ding ondanks hulle botsing in die Kanadese Grand Prix. Norris moes onttrek nadat hy in Montreal agter-in Piastri se motor vasgery het. Piastri is tans die voorloper in die bestuurders-kampioenkap. Spanhoof Andrea Stella sê hy verwag beter oordeel van sy renjaers. Norris, wat 22 punte agter Piastri is voor die naweek se Oostenrykse Grand Prix, sê die terugvoering na Montreal was goed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-91-sent teen die euro en 24-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-761-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-258-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….