Nuus 17:00
BULLETIN 24 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gwarube sê Veilige Skole-protokol is ‘n keerpunt in die stryd teen geweld
# Die Gautengse LUR vir Landbou vra nasionale koördinering om bek-en-klouseer te beheer
# En motorsport: Die eerste Ierse renjaer in 22-jaar gaan aan ‘n F1 Grand Prix-naweek deelneem
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê die nuut-ondertekende Veilige Skole-protokol is ‘n keerpunt in die stryd teen geweld by skole. Dis in samewerking met die polisie ontwikkel en daarop gemik om ‘n polisiestasie met elke skool te verbind en funksionele veiligheidskomitees te stig. Dit volg ná skokkende statistieke, insluitend 28 moorde by skole in die 2023/24-boekjaar. Die minister sê die protokol dui op ‘n verskuiwing na bewysgegronde, samewerkende veiligheidsingrypings wat onderwysers, ouers, die polisie en gemeenskappe betrek:
# Die Gautengse LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, Vuyiswa Ramokgopa, vra strenger beheer oor die tussen-provinsiale beweging van diere om die verspreiding van bek-en-klouseer te beperk. Dit volg nadat ongeveer drie-duisend beeste wat met die siekte besmet is, by Karan Beef se voerkraal in Heidelberg, Gauteng, ingeënt is. Ramokgopa het aan SABC News gesê meer moeite moet gedoen word om die verspreiding van die siekte te beheer sodat rooivleis-uitvoere bevorder en plaaslike pryse verlaag kan word:
# Suid-Afrika se Ouditeur‑Generaal, Tsakani Maluleke, is tans gasvrou op die 20ste beraad vir G20-ouditeurs-generaal van die belangrikste oudit-instellings in Johannesburg. Die beraad beoog om globale oorsig, deursigtigheid, en inwoner-gefokusde staatsbestuur deur middel van internasionale samewerking tussen belangrike ouditinstellings te versterk. Maluleke beklemtoon dat die ontsluiting van infrastruktuurbefondsing en die oorbrugging van die vaardigheidsleemtes voorkeur sal kry:
# Motorsport: McLaren het aangekondig dat die 19-jarige Alex Dunne vir Lando Norris vervang in die eerste oefening vir hierdie naweek se Oostenrykse Grand Prix. Dit is die eerste keer in 22 jaar dat ‘n Ierse renjaer aan ‘n F1-naweek deelneem. Dunne is sedert Mei verlede jaar ‘n lid van McLaren se ontwikkelingsprogram en is tans die voorloper in die Formule 2-kampioenskap in sy eerste jaar. Spanhoof Andrea Stella sê dis goed om hom waardevolle tyd agter die stuur van ’n F1-motor te gee as deel van sy ontwikkeling.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-en-80-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-313-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die Brits-geregistreerde superjag Bayesian wat in Augustus verlede jaar naby Sicilië gesink het, het sy laaste rit na die Siciliaanse hawe van Termini Imerese voltooi nadat herwinningspanne dit uit die water gehaal het. Die Britse tegnologiemagnaat Mike Lynch en ses ander passasiers is in die ongeluk dood. Britse ondersoekers het bepaal die seiljag het gesink op die plek waar die bemanning skuiling gesoek het teen donderstorms. Windsnelheid van meer as 70 knope het die boot 90 grade laat kantel binne 15 sekondes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….