Nuus 17:00
BULLETIN 21 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die verergerende Midde-Oosterse konflik kan ‘n styging in Suid-Afrikaanse brandstofpryse veroorsaak
# Nog tien Suid-Afrikaanse soldate word in hegtenis geneem oor die moord op ‘n Valke-offisier
# En Kirsty Coventry word die Internasionale Olimpiese Komitee se eerste vroulike president
# Suid-Afrika kan skerp stygings in brandstofpryse te wagte wees namate spanning in die Midde-Ooste styg. Wêreldwye oliepryse het gestyg ná Israel se aanvalle op Iran en Amerikaanse bomaanvalle op Iranse kernkragaanlegte. Ontleders van Oilprice.com waarsku die pryse kan die hoogte in skiet as Iran die strategiese internasionale handelsroete, die Seestraat van Hormuz, afsluit. Suid-Afrika se olie word meestal ingevoer uit Nigerië en Saoedi-Arabië, maar ‘n laer algehele aanbod, verswakte rand en ontwrigte voorsieningskettings sal pryse oor die algemeen beïnvloed.
# Nog tien lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n offisier van die Valke, Frans Mathipa. Altesaam 12 mense is nou aangekeer. Die betrokke tien lede het hulself oorgegee aan die Valke in Johannesburg en sal binnekort in die Landdroshof in Randburg verskyn. Mathipa is in Augustus verlede jaar op die N1 naby Hammanskraal in Pretoria doodgeskiet. Hy het ondersoek ingestel na die beweerde ontvoering van ‘n vermeende leier van Islamitiese Staat, Abdella Abadiga.
# Die DA sê 29 skole in Gauteng is sedert 2019 in brande beskadig, wat ernstige swakhede in brandbestrydingmaatreëls ontbloot. Slegs ses van die skole is deur die provinsiale Departement van Infrastruktuurontwikkeling reggemaak met 13 wat glad nie herstel is nie. Die koste van herstelwerk by tien skole is deur versekering, skenkings of skoolbeheerliggame gedra. Sergio Isa dos Santos van die DA vra die dringende verbetering van brandveiligheidsinfrastruktuur en brandbestrydingstoerusting:
# Die Vryheidsfront Plus sê dis tyd dat die Stad Kaapstad in sekere dele van die metro die elektrisiteitsvoorsiening by Eskom oorneem. Die metro voorsien tans krag aan 75-persent van Kaapstad terwyl Eskom die orige 25-persent regstreeks voorsien. Grant Marais van die VF Plus sê die gebiede wat krag van Eskom kry, beleef dikwels kragonderbrekings wat weke tot maande duur:
# Die eerste vroue-president van die Internasionale Olimpiese Komitee, Kirsty Coventry, het beloof om die Spele te versterk en sy invloed uit te brei toe sy die rol oorgeneem het in Lausanne, Switserland. Die 41-jarige voormalige Zimbabwiese Olimpiese swemkampioen volg Thomas Bach van Duitsland op na 12 jaar. Coventry sê sy is geëerd dat sy die roete gestap het van atleet tot die wêreld se magtigste sportadminastrateur, met die wete dat sy die beste span het wat haar en die beweging die volgende agt jaar sal ondersteun.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-321-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-368-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….