Nuus 17:00
BULLETIN 20 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hoofregter Maya vra volgehoue toewyding aan grondwetlikheid en geregtelike onafhanklikheid
# Afpersing het ‘n ernstige ekonomiese- en sekerheidskrisis in die Wes-Kaap geword
# En motorsport: Suid-Afrika se F1-bodkomitee gaan binnekort sy voorkeur-promotor vir die voorgestelde Grand Prix voorlê
# Hoofregter Mandisa Maya het Suid-Afrikaners versoek om hulle te verbind tot die handhawing van die Grondwet en om die onafhanklikheid van die regbank te beskerm. Maya het tydens die Konstitusionele Hof se 30ste herdenking in Braamfontein, Johannesburg, gesê die hof, wat in 1995 deur wyle oudpresident Nelson Mandela gestig is, beskerm steeds die regte en waardigheid van alle burgers. Sy waarsku egter die oppergesag van die reg moet gehandhaaf word, en howe moet nie deur politieke inmenging beïnvloed word nie:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê afpersing vertraag openbare infrastruktuurprojekte van 400-miljoen-rand in die provinsie. ‘n Hoëvlakberaad teen afpersing is vroeër die week in Kaapstad gehou. Winde sê afpersingsindikate lê infrastruktuurprojekte lam, intimideer gemeenskappe en ondermyn werkskepping. Die LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, sê afpersing het ʼn ernstige ekonomiese- en sekerheidskrisis geword wat hele sektore onbestendig maak.
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, vra benoemings om nuwe lede vir die Sentrale Dwelmowerheid aan te stel. Benoemings sluit op 30 Junie. Die owerheid bied raad aan die regering oor strategieë om dwelmmisbruik te bekamp en hou ook toesig oor die nasionale meesterplan vir dwelms. Bathembu Futshane van die departement sê die benoemdes moet ten minste ‘n Baccalaureusgraad en vyf jaar ondervinding in behandeling, voorkoming of wetstoepassing hê:
# Motorsport: Suid-Afrika se Formule Een-bodkomitee sal binnekort sy voorkeur-promotor vir die voorgestelde Grand Prix aan die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, voorlê. Die internasionale beheerliggaam, die F-I-A, het Kyalami in Johannesburg goedgekeur as ‘n Graad Een-renbaan, die hoogste standaard vir Formule Een. Woorvoerder Mlimandlela Ndamase sê die opgraderings aan die privaat-befondse renbaan is ‘n belangrike mylpaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-en-19-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-14-sent per vat.
# En laastens, die wêreld se beste manstennisspeler, Jannik Sinner van Italië, en sy wêreldberoemde landgenoot, die tenoor Andrea Bocelli, het kragte saamgesnoer en ‘n enkelsnit vrygestel met die titel Polvere e Gloria, wat Stof en Glorie beteken. Die liedjie met Italiaanse en Engelse lirieke word deur Bocelli gesing en bevat uittreksels uit Sinner se wen- en verloortoesprake op die baan. Die video van die liedjie, wat in Bocelli se ateljee in Toskane opgeneem is, bevat foto’s uit die twee sterre se kinderjare. Sinner beskryf die ervaring as ‘n groot eer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….