Nuus 17:00
BULLETIN 18 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gift of the Givers word in Mthatha gedreig terwyl hulle hulp verleen na die oorstromings
# Gauteng se Gesondheidsdepartement reageer op die maselsuitbreking
# En die Stad Kaapstad keur ‘n ontwikkeling in die geskiedkundige Bo-Kaap goed ondanks openbare teenkanting
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het uitgevaar teen dreigemente teenoor die humanitêre groep Gift of the Givers in Mthatha in die Oos-Kaap. Hulle is blykbaar geïntimideer deur lede van die sogenaamde watermafia wat aan munisipale diensverskaffers gekoppel word, terwyl hulle skoon water aan vloedslagoffers gelewer het. Die onlangse oorstromings het 90 lewens geëis en honderde mense is dakloos gelaat. Die minister se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die polisie is ook ontplooi om plundering by slagoffers se huise te verhoed:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het sy reaksie op openbare gesondheid verhoog te midde van ‘n styging in die aantal maselsgevalle in die provinsie. ‘n Woordvoerder vir die department, Motalatale Modiba, sê laboratoriums het van 1 Januarie tot Vrydag 181 gevalle aangemeld. Hy sê baie van die gevalle is afkomstig uit die distrikte Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni:
# Die Stad Kaapstad het die omstrede Buitengracht 150-ontwikkeling op die rand van die Bo-Kaap goedgekeur. Die projek sluit in 40 woonstelle, winkelruimte, ‘n dak-restaurant en ondergrondse parkering. Aanpassings is gedoen na sterk teenkanting uit die gemeenskap, onder meer om die hoogte en voetspoor te verklein om die gebied se erfenis te beskerm. Die Suid-Afrikaanse Erfenis-hulpbronagentskap was die bemiddelaar. Burgemeester Geordin Hill-Lewis noem die uitkoms ʼn model vir inklusiewe, erfenisbewuste ontwikkeling. Bouwerk begin na verwagting later vanjaar.
# Sokker: Liverpool skop die verdediging van sy Premierliga-titel op 15 Augustus op Anfield af teen Bournemouth, terwyl Arsenal na Manchester United reis vir ‘n taai stryd tydens die openingsnaweek. Liverpool het later ‘n paar moeilike wedstryde teen Newcastle en tuis teen Arsenal. Thomas Frank se eerste wedstryd as Tottenham se hoofafrigter vind op 16 Augustus plaas teen die pas bevorderde Burnley, met Sunderland wat op dieselfde dag sy terugkeer na die Premierliga maak teen West Ham. Leeds, die derde nuweling in die liga, speel op 18 Augustus teen Everton.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-69-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-391-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-48-sent per vat.
# En laastens: Qatar Airways is vir ‘n rekord negende keer as die wêreld se beste lugredery aangewys op die Skytrax-toekennings, bekend as die Oscars van die lugvaartwêreld. Qatar is ook aangewys as die beste lugredery in die Midde-Ooste, die lugdiens met die wêreld se beste besigheidsklas en die beste besigheidsklas-sitkamer. Die vyfmalige wenner van die wêreld se beste lugredery-toekenning, Singapore Airlines, is tweede met die Hongkongse redery Cathay Pacific derde. Ethiopian Airlines is die sewende keer die beste lugredery in Afrika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….