Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA versoek die SAMRK om op te tree oor klagte teen die treurige minister Lindiwe Zulu
# Die VF Plus sê moedertaalonderrig is die oplossing vir die Vrystaatse druipsyfer
# En, gemengde gevegskuns: ‘n Reuse-UFC-kampioenskapsgeveg wag op Dricus du Plessis
# Die DA versoek die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie om daadwerklik op te tree op sy klagte van vier maande gelede ten opsigte van voortslepende kwessies met SASSA se uitbetaling van maatskaplike toelaes. Die party beweer ten spyte van versekerings dat ‘n ondersoek op hande is, het hulle nog geen terugvoer van die kommissie ontvang nie. SASSA loop weer onder kritiek deur omdat maatskaplike toelaes hierdie maand nie uitbetaal is nie. ʼn Woordvoerder van die DA, Dan Plato, eis die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, moet weens onbevoegdheid en pligsversuim vervang word:
# Die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat sê hy is oortuig moedertaalonderrig is die sleutel om die provinsie se hoë druipsyfer teen te werk. Byna 40-persent graad 10’s en 26-persent graad 8’s in die provinsie het verlede jaar nie hulle eksamen geslaag nie. Armand Cloete van die party sê dit beteken niks om die beste slaagsyfer in die land te hê as vier uit elke tien graad 10-leerders in die provinsie in dieselfde jaar druip nie:
# Die Algemene Balieraad en Advokate vir Transformasie betwis ‘n staatstender wat na bewering jong swart advokate aan bande lê om die staat te verteenwoordig. News24 berig die tender beperk die punte van voorheen benadeelde mense tot prokureurs wat voor 1993 gebore is. Die organisasies voer aan dit belemmer pogings tot hervorming van die regsberoep. Hulle voer aan die tender is onwettig en in stryd met die Grondwet en bemagtigingswette. Die prokureur-generaal, Fhedzisani Pandelani, het onderneem om nie die uitslag van die tender voor 18 Julie bekend te maak nie. ’n Hofsitting is vir April geskeduleer om die wettigheid en rasionaliteit daarvan te laat hersien.
# Gemengde gevegskuns: ‘n Reuse-stryd wag die naweek op die Suid-Afrikaanse vegter Dricus du Plessis. Hy kom Sondagoggend 5-uur, Suid-Afrikaanse tyd, in Toronto, Kanada, te staan teen Sean Strickland om die UFC-middelgewig-kampioenskapstitel. Dit is Du Plessis se eerste titelgeveg in die UFC en boonop teen die gevaarlike Amerikaner, wat die verdedigende kampioen is. Du Plessis sê die geveg is die hoogtepunt van 15 jaar se harde werk en opoffering:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-343-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-13-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-53-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het uiters hoë brandgevaarwaarskuwings uitgereik vir dele van die Wes-Kaap en die Noord-Kaap, met temperature van bo 40-grade Celsius. Die uiters hoë temperature en vogtigheid sal na verwagting tot môre voortduur en dele van die Namakwa-distrik raak. Die uitwerkings-gegronde waarskuwings sluit ook ‘n geel vlak twee-waarskuwing in vir ontwrigtende reën en potensiële oorstromings in Limpopo, en ‘n geel vlak een-waarskuwing vir golwe wat seevaart langs die Weskus sal beïnvloed tussen Kaap Columbine en Kaappunt.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….