Nuus 17:00
BULLETIN 17 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die eerste Suid-Afrikaanse soldate voltooi demobilisering na hulle terugkeer uit die DRK
# Die dodetal in die botsing in Vryheid word aangepas na tien
# En tennis: Sabalenka vra verskoning oor haar opmerkings na haar nederlaag teen Gauff
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê die eerste groep soldate wat teruggekeer het van die Demokratiese Republiek die Kongo se demobilisering is voltooi. Hulle terugkeer volg op ‘n wapenstilstand tussen M23-rebelle en DRK-magte. ‘n Derde groep van 248 het gister op die Bram Fischer-lughawe in Bloemfontein geland en sal by die Militêre Basis Tempe in die Vrystaatse hoofstad demobiliseer, met die vierde groep wat vandag verwag word. Die Weermag se woordvoerder, Godfrey Thulare, sê die proses sluit ‘n kort intelligensieprogram in:
# KwaZulu-Natal se LUR vir Vervoer, Sipho Duma, het die dodetal in vanoggend se botsing tussen ‘n bus en ‘n vragmotor naby Vryheid van 12 na tien aangepas nadat die toneel, hospitale en lykshuise noukeurig deursoek is. Drie vroue en sewe mans is dood en meer as 30 mense beseer. Duma sê swak sigbaarheid het tot die verkeerde inligting gelei. Hy is bekommerd oor vragmotors wat die roete gebruik en nie die N2 nie, wat ‘n bykomende las op die infrastruktuur plaas:
# Noordwes se Departement Landbou het ‘n uitbreking van bek-en-klouseer bevestig in die JB Marks- en die Madibeng munisipaliteit in die Dr Kenneth Kaunda-distrik. Toetse het serotipe 2- en serotipe 3-stamme bevestig in besmette diere wat nou onder kwarantyn is. Aangrensende plase, insluitend dié wat aan Gauteng grens, is as ‘n voorsorgmaatreël ook onder kwarantyn geplaas. Meer as 900-duisend dosisse entstof is landwyd bestel. Die regering sê ‘n biosekerheids-raad is gevorm om die reaksie op uitbrekings te versterk en Suid-Afrika se veebedryf te beskerm.
# Die Stad Tshwane het meer as 4,3-miljard-rand se skuld afgeskryf met sy aansporings- en skuldverligtingsprogram. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê meer as 2,4-miljard-rand van bykans 85-duisend behoeftiges en huishoudings met kinders aan die hoof, is afgeskryf. Nog 1,8-miljard-rand is geskrap vanaf ongebruikte rekeninge. Mashigo sê die stad het tydens die proses 81-miljoen-rand ingevorder by huis- en sake-klante. Hy bevestig ook meer as 20-duisend amnestie-aansoeke is ontvang vir peuter aan meters:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, het verskoning gevra vir haar uitsprake na haar nederlaag teen die Amerikaner Coco Gauff in die eindstryd van die Franse Ope. Die 27-jarige het aan die media gesê dit was die swakste eindstryd wat sy nog ooit gespeel het. Volgens haar het Gauff nie gewen omdat sy so goed gespeel het nie, maar omdat Sabalenka so baie foute gemaak het. Sabalenka het aan Eurosport gesê haar uitsprake was onprofessioneel en emosioneel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-577-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-395-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….