Nuus 17:00
BULLETIN 13 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa loof forensiese spanne vir spoedige optrede en die menswaardige hantering van Oos-Kaapse vloedslagoffers
# Internasionale lugrederye kanselleer of herlei vlugte na Israel se aanval op Iran
# En rugby: Blitsbok-sterre versterk die Springbok Sewes-A-span vir ‘n toernooi in Mauritius
# President Cyril Ramaphosa het forensiese spanne geloof vir hulle spoedige optrede in die nadraai van die dodelike vloede in die Oos-Kaap. Hy het Mthatha besoek, waar minstens 78 mense dood is. Ramaphosa sê hy het bemoedigende verslae gekry dat vloedslagoffers met menswaardigheid hanteer en aan hulle gesinne terugbesorg is. Hy het ook die optrede van regeringsbeamptes en humanitêre organisasies soos Gift of the Givers geloof:
# Die finansiële hoof van die polisie se Misdaadintelligensie-afdeling, Philani Lushaba, is in hegtenis geneem oor ‘n skandaal in 2022 toe ‘n sekswerker na bewering sy amptelike vuurwapen en skootrekenaar gesteel het. Twee ander senior Misdaadintelligensie-beamptes is aangekeer omdat hulle na bewering gehelp het om die voorval te verdoesel. Lushaba, wat homself vandag in Pretoria oorgegee het, word ook ondersoek oor ‘n eiendomskandaal van 81-miljoen-rand in verband met onreëlmatige besteding aan eiendomme. Daar is voorheen berig hy het verdwyn terwyl die Nasionale Vervolgingsgesag voorberei het om hom te ondervra.
# Internasionale lugrederye het vlugte na Tel Aviv, Teheran en ander bestemmings in die Midde-Ooste gekanselleer of na ander lughawens herlei nadat lugruimtes gesluit is na Israel se lugaanvalle op Iran. Israel, Iran, Irak, Jordanië en Sirië het hulle lugruimtes gesluit nadat Israel militêre teikens en kernaanlegte in Iran aangeval het. Die Midde-Ooste se grootste lugredery, Emirates, sê hulle het vlugte na en van Irak, Jordanië, Libanon en Iran gestaak. Qatar Airways sê hy het vlugte na Iran en Irak tydelik gekanselleer.
# Rugby: Twee spelers van die Blitsbok-wêreldkampioen, Ricardo Duarttee en Mfundo Ndhlovu, is aan die voorpunt van die Springbok-sewes se A-span vir die Rugby Afrika Sewesbekertoernooi volgende naweek in Mauritius. Hulle het albei drieë gedruk in die Blitsbokke se oorwinning oor Spanje in die eindstryd van die Wêreldreeks. Nog twee Blitsbokke, Sebastiaan Jobb en Masande Mtshali, sluit ook by hulle aan. Die span vertrek vandag. Afrigter Philip Snyman sê hierdie toernooi is uiters belangrik vir die groep se diepte en ontwikkeling:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-796-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-441-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-37-sent per vat.
# En laastens, Discovery Bank waarsku kliënte oor toenemende bedrog in Suid-Afrika deur misdadigers wat voorgee om bedrog te beveg. Hulle dring aan dat slagoffers hul kaartbesonderhede moet deel, onder die voorwendsel om verdagte transaksies te keer. Die bank vra kliënte om nooit hulle kaartinligting te deel nie en na veiliger moontlikhede soos virtuele kaarte oor te skakel. Volgens ‘n onlangse opname is meer as 60-persent van mense in hoër inkomstegroepe besorg oor digitale bedrog. Bedrog sonder die gebruik van fisiese kaarte het met 18,4-persent gestyg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….