Nuus 17:00
BULLETIN 10 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Man word aangekla van die grusame moord op ‘n tiener van Gauteng
# Die omgewingsaktivis Greta Thunberg word uit Israel gedeporteer
# En krieket: Die veelsydige Wiaan Mulder word bo Tony de Zorzi gekies vir die Proteas se toets-eindstryd teen Australië
# Die polisie het ‘n 39-jarige man aangekla van die moord op die 14-jarige Likhona Fose in Gauteng. Die polisie sê hul Okkulte Eenheid het die man met die misdaad verbind nadat hulle hom ondervra het. Likhona se verminkte liggaam is verlede week in Roodepoort gevind, ‘n dag nadat sy vermis geraak het. Sy is laas in Durban Deep gesien. Die tiener is Saterdag in Alice in die Oos-Kaap begrawe. Die man verskyn môre in die Roodepoortse Landdroshof.
# Statistiek Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het in April met 6,3-persent gedaal in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar. Die grootste dalings is aangeteken in die voedsel- en dranksektor, motorvoertuie, en staal- en metaalprodukte. Produksie het egter van Maart tot April effens gestyg met 1,9-persent. Nicolai Claassen van Statistiek SA sê produksie en verkope het die afgelope drie maande afgeneem, wat toon dat daar voortdurende uitdagings in die sektor is:
# Die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, sê die media-beskrywing oor die aanstelling van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se uitvoerende hoof, Tebogo Malaka, is misleidend en feitelik verkeerd. Hy word daarvan beskuldig dat hy die trust beskerm en ondersoeke na korrupsie en verkrygingsonreëlmatighede deur Malaka toegesmeer het. Zikalala het op ‘n nuuskonferensie gesê die aanstellingsproses het begin voor hy adunkminister geword het, maar het die proses gestaak om voorsiening te maak vir bykomende beheer te midde van bewerings oor huurkontrakte:
# Israel het die Sweedse aktivis Greta Thunberg gedeporteer, ‘n dag nadat Israelse magte die vaartuig waarop sy en 11 ander mense onderweg na Gaza was, in die Middellandse See onderskep het. Die ministerie van Buitelandse Sake sê Thunberg het uit Tel Aviv na Frankryk vertrek nadat sy ingestem het om gedeporteer te word. Vyf van die ses Franse burgers wat saam met haar aangehou is, weier om hul deportasiebevele te onderteken en sal nou geregtelik vervolg word. Hulle seiljag is onderskep terwyl hulle hulp aan Gaza probeer lewer het.
# Krieket: Die veelsydige Wiaan Mulder is ingesluit in die Proteas se span vir die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië wat môre op Lord’s in Londen begin. Dit beteken die kolwer Tony de Zorzi word uitgelaat, terwyl die snelbouler Lungi Ngidi bo Dane Paterson gekies is. Die res van die span is kaptein Temba Bavuma, Ryan Rickelton, Aiden Markram, Tristan Stubbs, David Bedingham, Kyle Verreynne, Marco Jansen, Keshav Maharaj en Kagiso Rabada. Spel begin môreoggend half-12, Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-820-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….