Nuus 17:00
BULLETIN 9 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie versnel die repatriasie van voorouers en bannelinge
# Minister Nkabane beloof om UNISA se integriteit te handhaaf te midde van kommer oor beheer en bestuur
# En ‘n 74-jarige atleet voltooi sy 50ste Comrades
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die repatriasie van die oorskot van anti-apartheidshelde en inheemse Khoi- en San-voorouers is die sleutel tot die regstelling van geskiedkundige ongeregtighede. Hy het die herbegrafnisse van die oorskot van 58 Khoi- en San-mense genoem, terwyl gesprekke met die Universiteit van Glasgow voortduur om meer Khoi- en San-oorskot uit Skotland terug te besorg. McKenzie het die publiek versoek om te help met inligting om diegene wat in ballingskap gesterf het, te identifiseer:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, het beloof om met die Universiteit van Suid-Afrika te vergader na aanleiding van berigte oor skorsings van senior personeellede en voortdurende kommer oor beheer en finansiële bestuur. Die ministerie se woordvoerder, Camagwini Mavovana, sê UNISA bly ‘n belangrike deel van die land se hoër onderwysstelsel en die beskerming van die integriteit daarvan kry voorkeur:
# Die DA sê hulle het die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, en die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, Themba Matlou, gevra om te verseker dat begunstigdes wat die biometriese bevestigingsproses voltooi, nie sonder hul toelaes gelaat word nie. Bridget Masango van die DA sê hulle het klagtes ontvang dat begunstigdes sukkel om hul besonderhede aanlyn na te gaan of by te werk.
# Padwedlope: Die veteraan langafstand-atleet Louis Massyn het die eerste persoon geword om 50 keer die Comrades-marathon suksesvol af te lê. Die 74-jarige het die wenstreep bereik slegs minute voor die afsnytyd van 12-uur. Massyn het sy eerste wedloop in 1973 gehardloop en sedertdien slegs 2020, ’21 en ’22 s’n misgeloop. Hy het gister se geleentheid ‘n moeilike maar onvergeetlike dag genoem. Massyn het bevestig dat hy nog twee wedlope beplan, wat die eeufees van 2027 insluit:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-603-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-315-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die boek, Behind Prison Walls, sit praktiese stappe uiteen om die beleërde gevangenisstelsel te hervorm. Dis geskryf deur ‘n oudregter van die Konstitusionele Hof, Edwin Cameron, ‘n navorsingsgenoot aan die Sentrum vir Reg en Samelewing, Rebecca Gore, en die regsklerk Sohela Surajpal. Die boek kritiseer swaar vonnisse, oorbevolking en ongelykheid in korrektiewe geregtigheid. Cameron, wat in 2020 as inspekterende regter van Korrektiewe Dienste aangestel is, vra dringende borgtoghervorming, dekriminalisering en beter omstandighede in gevangenisse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….