Nuus 17:00
BULLETIN 6 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NUMSA waarsku arbeidskrisis sal vererger indien Goodyear-aanleg sluit
# Ramaphosa vier Jeugmaand met besoeke aan inisiatiewe vir jeugindiensneming
# En, bek-en-klouseer-entstof ter waarde van 72-miljoen-rand word teen middel Junie in SA verwag
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA sê die Oos-Kaap staar ‘n groeiende arbeidskrisis in die gesig met die buitebandvervaardiger Goodyear South Africa wat sy aanleg in Uitenhage gaan sluit. Meer as 900 werkers sal na verwagting geraak word. Die vakbond waarsku dit sal werkloosheid in die provinsie, wat reeds op 42-persent staan, nog erger maak. Phakamile Hlubi-Majola van NUMSA sê die vakbond sal baklei om poste te beskerm en billike skeidingspakkette te verseker:
# President Cyril Ramaphosa sal Dinsdag Jeugmaand in Pretoria vier en jong begunstigdes van belangrike indiensnemingsprogramme ontmoet. Ramaphosa sal persele besoek wat verband hou met die presidensiële Jeugindiensnemingsinisiatief en die presidensiële werkstimulus. Dit sluit in die Sefako Makgatho Primary School in Saulsville, die South African Creative Industries Incubator in Eersterust, en die Stigting vir Professionele Ontwikkeling. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya het op ‘n nuuskonferensie gesê die besoeke het ten doel om innoverende openbare-privaat vennootskappe ten toon te stel:
# Die Departement van Landbou verwag dat ‘n besending bek-en-klouseer-entstof ter waarde van 72-miljoen-rand teen die tweede week in Junie in die land sal wees. Die adjunk-direkteur-generaal vir Landbouproduksie, Biosekerheid en Natuurlike Hulpbronbestuur, Dipepeneneng Serage, het aan Moneyweb gesê die entstof word ingevoer van Botswana aangesien die binnelandse vervaardigingskapasiteit in Suid-Afrika beperk is. Die departement beraam die entstofbehoeftes vir die 2025/2026-boekjaar op 1,2-miljard-rand, met elke dosis wat na verwagting sowat een-honderd-rand sal kos.
# Iran het Brittanje, Frankryk en Duitsland gewaarsku om nie ‘n konsep-resolusie by die Internasionale Atoomenergie-agentskap te steun nie. Die resolusie beskuldig Iran van nie-nakoming en Teheran noem dit ‘n “strategiese fout”. Die minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê Iran sal sterk reageer teen enige skending van sy regte. Die waarskuwing deur IRan se topdiplomaat kom terwyl die drie Europese regerings voorberei om volgende week tydens ‘n raadsvergadering saam met Washington ‘n sensuur-resolusie te steun. Die resolusie beskuldig Iran dat hy nie sy kernverpligtinge nakom nie en kan moontlik na die VN-Veiligheidsraad verwys word.
# Rugby: Anathi Qolo sal môre ‘n Springbok-vrouespan met ‘n gekombineerde 174 wedstryde aanvoer. Hulle speel teen Uganda in hulle openingswedstryd in Antananarivo in die Rugby Afrika-Vrouebekerkompetisie. Drie spelers, Patience Mokone, Faith Tshauke en Anushka Groenewald, speel hulle eerste toets en is in die beginspan. ‘n Verdere vyf spelers sonder toetservaring is op die plaasvervangersbank. Hulle is Anuchka Ekron, Sinothile Bhengu, Dineo Ndlhovu, Nobuhle Mjwara en Leigh Fortuin. Anja le Roux was medies ongeskik verklaar om na Madagaskar te reis en word vervang deur Vianca Boer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-046-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….