Nuus 17:00
BULLETIN 4 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen ‘n beroep op Nasional Tesourie om Gauteng te straf vir onbetaalde munisipale skuld
# Die Aankoopbestuurdersindeks dui aan Suid-Afrika se groei het ‘n vierjaar-hoogtepunt bereik
# En, tennis: Coco Gauff dring deur na die halfeindronde van die Franse Ope
# Die leier van die DA in Tshwane, Cilliers Brink, doen ‘n beroep op die nasionale regering om fondse van die Gautengse Provinsiale regering te weerhou oor onbetaalde munisipale skuld. Brink sê in ‘n brief aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana, frontlinie-dienste soos die Weskoppies-hospitaal staar skuldoptrede weens nie-betaling in die gesig. Hy sê die Gautengse regering is besig om te misluk en gewone mense betaal die prys daarvoor:
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA sê die toename in geweld teen kinders is weens die diepe ongelykheid onder kapitalisme. Die vakbond het in Kinderbeskermingsweek verskeie skokkende gevalle van kindermishandeling en moordgevalle uitgelig en waarsku armoede en desperaatheid vererger dit. NUMSA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, doen ‘n beroep op die regering om staatsbeheerde ondernemings te herstel sodat werk geskep kan word, om nog maatskaplike werkers aan te stel en om polisie-eenhede te versterk sodat kinders beskerm kan word:
# S-en-P Global Suid-Afrika se Aankoopbestuurdersindeks het in Mei tot 50,8 vanaf 50 in April, gestyg, wat vir die eerste keer sedert November verlede jaar groei aandui. ‘n Indekslesing bo 50 dui groei aan. Die indeks het ‘n geringe verbetering in die privaat sektor aangedui, met maatskappye wat toenames in produksie, nuwe bestellings en voorraad rapporteer. Ten spyte van die positiewe binnelandse vooruitsigte, het uitvoerbestellings steeds afgeneem, hoewel teen ‘n stadiger tempo as in April, gedeeltelik as gevolg van Amerikaanse tariewe se impak op internasionale handel.
# Ongeveer 20-duisend mense in die middelstad van Keulen is ontruim nadat drie lewendige bomme uit die Tweede Wêreldoorlog gevind is. Dit is die grootste vonds van die aard in die Duitse stad sedert die einde van die oorlog. Die drie Amerikaanse bomme is tydens bouwerk ontdek en sal nou deur bomdeskundiges ontlont word. Twee van die bomme weeg ‘n duisend kilogram elk en die ander een 500 kilogram. Strate en treinspore is gesluit en stadspersoneel het van deur tot deur gegaan vir die ontruiming van die gebied, wat drie brûe oor die Ryn insluit.
# Tennis: Coco Gauff moes verbete terugveg in die Franse Ope nadat sy die eerste stel in die kwarteindronde teen Madison Keys, die Australiese Ope Kampioen, verloor het. Die tweede gekeurde Gauff het haar mede Amerikaner uiteindelik met 6-7, 6-4, 6-1 geklop in ‘n wedstryd wat ‘n verbasende 14 dubbel-foute en 101 ongedwonge foute ingesluit het. Gauff hoop om beter as laasjaar te presteer toe sy teen Iga Swiatek in die halfeindronde verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-265-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….