Nuus 17:00
BULLETIN 10 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier vra vir ‘n voltydse minister van Polisie om bende- en geweldsmisdaad aan te pak
# Beskermde getuienis word toegestaan vir Getuie O by die Madlanga-kommissie
# En, sokker, vier mense is aangekeer na polisie en ondersteuners in Londen slaags raak ná Wêreldbeker-kwarteindstryd
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het president Cyril Ramaphosa versoek om dringend ‘n voltydse minister van Polisie aan te stel. Hy het tydens ‘n teen-misdaad-optog in Gqeberha in die Oos-Kaap gesê Suid-Afrika benodig sterker polisie-leierskap en beter wetstoepassing om bende- en geweldsmisdaad en afpersing te beveg. Hill-Lewis het die regering gekritiseer omdat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, steeds betaal word terwyl hy op spesiale verlof is:
# Die Madlanga-kommissie het ‘n aansoek toegestaan vir Getuie O, ‘n misdaadintelligensie-beampte en verklikker, om gedeeltelik in camera te getuig. Getuienisleier Mahlape Sello sê Getuie O se getuienis hou verband met strafregtelike klagtes wat die hoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, betrek. Dit sluit in bewerings oor die hantering van ondersoeke, die toepassing van prosedures binne die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie onder leiding van Andrea Johnson, en beweerde inmenging deur die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi:
# Meer as 70 verdagtes, insluitend sewe vroue, is tydens Operasie Prosper in Mohlakeng aan die Wes-Rand van Gauteng in hegtenis geneem. Die multidissiplinêre operasie, waarby die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag betrokke was, het vanoggend onwettige mynbou en verwante misdade by die Bundu Inn geteiken. Beamptes het twee voertuie in beslag geneem, meer as 20 kragopwekkers en meer as 100 sakke goudhoudende materiaal gekonfiskeer. Die polisiewoordvoerder Tintswalo Sibeko sê die operasie duur voort en verdere arrestasies en beslagleggings word verwag:
# ‘n Kragtige tifoon nader ‘n afgeleë Japanse eilandgroep en owerhede waarsku teen sterk wind, swaar reën, grondstortings en oorstromings in wat die streek se mees vernietigende storm in jare kan wees. Tifoon Bavi sal na verwagting môreoggend vroeg baie naby aan die afgeleë Sakishima-eilande naby Taiwan verbybeweeg. Die tifoon sal na verwagting nie Taiwan tref nie, maar Bavi kan baie reën oor die eiland veroorsaak. Die tifoon sal na verwagting ook oor die naweek die kus bereik naby die Oos-Chinese stad Wenzhou, met ‘n bevolking van sowat tien-miljoen mense.
# Vier mense is in hegtenis geneem en ‘n polisiebeampte is beseer tydens onrus in Edgware-weg in Londen na gisteraand se Wêreldbeker-kwarteindstryd tussen Frankryk en Marokko in Boston. Frankryk het 2-0 gewen om hul derde agtereenvolgende halfeindstryd te haal. Video’s op sosiale media wys ondersteuners wat Marokkaanse vlae swaai terwyl hulle met oproerbeamptes bots, vuurwerke afskiet en vullis strooi. Die Metropolitaanse Polisie hersien kringtelevisie en video’s wat op sosiale media versprei is om te verseker die verantwoordelikes word vervolg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-196-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-104-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 76-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….