Nuus 17:00
BULLETIN 2 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis dat die Parlement minister Nkabane moet inroep oor ‘n geheime SETA-paneel
# Die minister van Water en Sanitasie waarsku infrastruktuur word doelbewus beskadig vir tenders
# En, Business Leadership SA bepleit ingryping by mislukte munisipaliteite wat die ekonomie ondermyn
# Die DA eis dat die Parlement die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, moet inroep oor die geheime paneel wat voorsitters van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede gekies het. Die party sê Nkabane het geweier om die name van individue wat sy na bewering persoonlik gekies het om meer as 500 aansoeke te evalueer, bekend te maak. Daar is uiteindelik 20 ANC-lojaliste aangestel. Karabo Khakhau van die DA sê dit is noodsaaklik om deursigtigheid te bevorder en politieke inmenging te voorkom:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê infrastruktuur word doelbewus beskadig om tenders te bekom. Haar uitspraak volg nadat Rand Water vandag beplande instandhoudingswerk in Gauteng afgehandel het. Die instandhouding is daarop gemik om langtermyn, ononderbroke watervoorsiening te verseker. Majodina sê haar departement is voortdurend in gesprek met munisipaliteite, en het opdrag gegee dat watertenkwaens slegs in noodgevalle gebruik mag word om die watertenkwa-mafia se bedrywighede hok te slaan:
# Business Leadership South Africa sê daadwerklike ingryping is nodig om die finansiële krisis in munisipaliteite op te los. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê in haar weeklikse nuusbrief die ouditeur-generaal se jongste verslag toon dat metro’s nie hul finansies bestuur nie. Slegs Kaapstad het ‘n skoon oudit gekry, terwyl Johannesburg en Tshwane se oudits miljarde in ongemagtigde besteding sowel as onvoldoende infrastruktuurbeplanning blootlê. Volgens Mavuso word ekonomiese groei en dienslewering deur swak bestuur benadeel, en is kundiges en sterker toesig nodig om die probleem op te los.
# Brittanje het aangekondig dat hy 12 nuwe aanvalsduikbote gaan bou. Die land het ‘n groot verdedigingshersiening van stapel gestuur wat die land meer oorlogsgereed sal maak. Die eerste minister, Keir Starmer, waarsku dat die bedreigings wat die land nou in die gesig staar, ernstiger, meer onmiddellik en meer onvoorspelbaar is as sedert die Koue Oorlog. Hy het oorlog in Europa, nuwe kernkragrisiko’s, daaglikse kuberaanvalle en toenemende Russiese aggressie gelys as bedreigings.
# Tennis: Op Roland Garros moes die 18-jarige Rus, Mirra Andreeva, hard veg om vir die tweede agtereenvolgende jaar die Franse Ope-kwarteindstryd te haal. Die sesde gekeurde het ‘n oorwinning van 6-3, 7-5 teen die Russies gebore Australiër Daria Kasatkina beklink. Coco Gauff het vir die vyfde keer in ‘n ry deurgedring na ‘n Franse Ope-kwarteindstryd toe sy die Russiese speler Ekaterina Alexandrova, wat 20ste op die wêreldranglys is, met 6-0, 7-5 geklop het. Die 21-jarige Gauff, ‘n Amerikaner, sal sake in die kwarteindrondte uitspook teen haar landgenoot en heersende Australiese Ope-kampioen, Madison Keys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-014-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….