Nuus 17:00
BULLETIN 28 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau kondig Sizekhaya Holdings as nuwe lotery-lisensiehouer aan
# Die regering vra gesamentlike optrede terwyl die koers van tienerswangerskappe kommerwekkend hoog bly
# En Franse aktiviste kleur ‘n beroemde fontein rooi as simbool vir die bloedbad in Gaza
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het aangekondig dat die vierde nasionale lotery- en sportweddenskaplisensie toegeken is aan Sizekhaya Holdings. Dit volg nadat die onderhandelinge met die Nasionale Loterykommissie suksesvol afgehandel is. Die departement versoek ‘n regsmening om te appelleer teen ‘n onlangse uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria oor die kwessie. Die ministerie se woordvoerder, Yamkela Fanisi, hoop dat die nuwe operateur die lotery sal laat groei en ondersteuning vir behoeftige mense vergroot.
# Die Kaapse Forum vra die hof en die media om die rol te beklemtoon van dwelmmisbruik, veral tik, terwyl die vonnisverrigtinge van Kelly Smith en haar medebeskuldigdes voortgaan in die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat in Saldanhabaai sit. Hulle is skuldig bevind aan die ontvoering en mensehandel van Smith se jong dogter, Joslin. Voorsitter Heindrich Wyngaard sê hulle beplan ‘n betoging by die hof, en sê dis noodsaaklik om die misbruik van tik uit te lig om toekomstige tragedies te voorkom:
# Die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede doen ‘n beroep op alle sektore van die samelewing om te verenig in die stryd teen tienerswangerskappe, aangesien byna 30-persent van tieners al swanger was. Hierdie syfer het wel in die afgelope aantal jare afgeneem, maar bly steeds kommerwekkend hoog, veral in landelike provinsies soos Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap. Cassius Selala van die departement vra eerlike gesprekke oor seksopvoeding en verbeterde toegang tot voorbehoeding:
# Franse aktiviste het rooi kleurstof in ‘n fontein in Parys gegooi as ‘n simbool van wat hulle die bloedbad van Palestyne in Gaza noem. Aktiviste van Oxfam en Amnestie Internasionaal het kleurstof in die Fontein van die Onskuldiges in die hartjie van die Franse hoofstad gegooi, terwyl nog aktiviste plakkate vasgehou het met die woorde “Wapenstilstand” en “Gaza: stop die bloedbad” daarop. Clemence Lagouardat, wat gehelp het met Oxfam se humanitêre reaksie in Gaza, veroordeel Israel se blokkade van die beleërde gebied.
# Rugby: Die Stormers is nie angstig oor die afwesigheid van die ervare Springbok-agterspeler Damian Willemse vir Vrydagaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Glasgow Warriors in Skotland nie. Willemse is vir drie wedstryde geskors vir sy rooikaart teen Cardiff, wat tot twee verminder kan word as hy Wêreldrugby se sogenaamde duiktegniekskool bywoon. Voorspeler-afrigter Rito Hlungwani sê die span het die afgelope paar weke baie verbeter na hulle die seisoen swak afgeskop het, en maak nie staat op net een buitengewoon begaafde speler nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-819-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….