Nuus 17:00
BULLETIN 27 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê geen veranderings word beplan vir mineraal-tantièmestelsel nie
# Life Esidimeni-gesinne vra weer vir vervolgings
# En krieket: Ponting sê Punjab het nog niks bereik deur net die IPL se uitspeelrondes te haal nie
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se huidige mineraal-tantièmestelsel is doeltreffend en daar is geen planne om dit te hervorm nie. Hy het aan die Parlement gesê die stelsel weerspieël reeds die beginsels van minerale huurbelasting, wat verseker dat die land voordeel trek wanneer mynmaatskappye hoë winste verdien. Ramaphosa sê tantième het van 14,2-miljard tot 28,5-miljard rand gestyg gedurende die verbruiksgoedere-oplewing van 2020 tot 2022 en het aansienlik tot die nasionale inkomste bygedra:
# Die belangegroep Section27 en gesinne van die Life Esidimeni-slagoffers vra die Nasionale Vervolgingsgesag om die gewese Gautengse LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu, en die voormalige direkteur van Geestesgesondheid, Makgabo Manamela, dringend te vervolg. ‘n Geregtelike doodsondersoek het bevind dat hulle strafregtelik aanspreeklik is aan die dood van sommige van die 144 geestesgesondheids-pasiënte. Die hernude oproep word gedoen voor ‘n vergadering van die Nasionale Hersieningsraad op Geestesgesondheid in Johannesburg. Pearl Nicodemus van Section27 sê gesinne wag al te lank vir geregtigheid en wil gereeld inligting van die NVG hê.
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid het, in samewerking met geregistreerde kredietburo’s, ongeveer 210-duisend begunstigdes van maatskaplike toelaes geïdentifiseer wat blykbaar inkomste ontvang wat nie eerlik aan die agentskap verklaar is nie. ‘n SASSA-woordvoerder, Andile Tshona, sê as deel van hierdie veldtog sal maatskaplike toelaebetalings vir die betrokke begunstigdes in die Junie-betalingsiklus vertraag word:
# Krieket: Punjab Kings se hoofafrigter, Ricky Ponting, het sy spelers gewaarsku hulle kan nog nie ontspan nie al het hulle die uitspeelrondes van die Indiese Premierliga die eerste keer in 11-jaar bereik. Die span is verseker van ‘n eerste of tweede plek en speel Donderdag teen Royal Challengers Bengaluru of Gujarat Titans in die kwalifiseerder, afhangend van die uitslag van vandag se laaste groepswedstryd tussen RCB en Lucknow Super Giants. Ponting sê hy is verheug, maar hulle het nog niks bereik nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-527-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-298-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Tiener is in Nieu-Seeland dood nadat hy deelgeneem het aan ‘n rugby-geïnspireerde gier, waar deelnemers sonder beskermende toerusting volspoed in mekaar vashardloop. Die uitdaging het in Nieu-Seeland en Australië versprei, word aangeblaas deur sosiale media en vind soms voor groot skares plaas. Georganiseerde kompetisies bied duisende dollar in prysgeld, maar die nuwe gier het gelei tot vrese oor harsingskudding en ander ernstige beserings. Die 19-jarige is op Nieu-Seeland se Noord-eiland dood nadat hy die spel saam met vriende gespeel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….