Nuus 17:00
BULLETIN 23 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Moeletsi Mbeki kritiseer Span SA se hantering van Amerika se bewerings oor wit volksmoord
# GIWUSA veroordeel COSATU se voorstel om wette tersyde te stel vir Musk se Starlink-internet
# En krieket: Sri Lanka se gewese kaptein tree uit toetse
# Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Sake, Moeletsi Mbeki, het Span Suid-Afrika se hantering van ‘n omstrede vraag oor wit volksmoord in die Withuis in Amerika gekritiseer. Mbeki sê hulle moes vooraf besluit het wie sou reageer. Hy het tydens ‘n onderhoud met SABC News die Amerikaanse president, Donald Trump, beskuldig dat hy probeer om ‘n kolonie in Suid-Afrika te bou deur middel van verdelende grootspraak en politieke manipulering:
# Die vakbond GIWUSA verwerp met minagting wat hy noem Cosatu se skaamtelose voorstel dat Suid-Afrika sy wette en regulasies tersyde moet stel vir Elon Musk se Starlink-internet. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, sê dit is nie bloot ‘n beleidstoegewing nie, maar klasseverraad. Hy sê die vakbondfederasie is nou verplig om as ‘n drukgroep vir miljardêr-rowers en imperialistiese belange op te tree:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê die provinsie benodig 350-miljoen-rand om die agterstand met foutiewe verkeersligte reg te stel. Hy sê vertragings is veroorsaak deur infrastruktuur-mislukkings en diefstal, wat padveiligheid en verkeersvloei beïnvloed. Lesufi het bevestig dat plaaslike munisipaliteite nou die instandhouding van provinsiale straatligte sal behartig kragtens nuwe ooreenkomste wat daarop gemik is om herstelwerk te bespoedig:
# Krieket: Die voormalige kaptein van Sri Lanka, Angelo Mathews, het aangekondig dat hy uit toetskrieket gaan tree nadat hy volgende maand in die eerste wedstryd teen Bangladesj gespeel het. Hy sal wel aanhou met witbalkrieket. Die 37-jarige veteraan sal die lang formaat verlaat na ‘n toetsloopbaan van 16 jaar, wat in Julie 2009 teen Pakistan begin het in die Galle-stadion. Sy 119de en laaste toetsverskyning sal vanaf 17 Junie op dieselfde stadion wees. Hy sal nie in die tweede toets teen Bangladesj speel nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-765-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-22-sent per vat.
# En laastens, 52-mediese vrywilligers het kragte saamgesnoer met die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg en Operasie Glimlag Suid-Afrika om 40 lewensveranderende operasies uit te voer. Gesplete lippe en verhemeltes is onder meer herstel. Die projek wat deur Life Healthcare ondersteun word, het ten doel om die landwye agterstand met operasies op kinders te verklein. Die program bied siftings, operasies en nasorg aan en beklemtoon die behoefte aan voortgesette behandeling en gelyke toegang. Die hospitaal se uitvoerende hoof, Nkuli Boikhutso, loof die poging as ‘n huldeblyk aan Mandela se nalatenskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….