Nuus 17:00
BULLETIN 21 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sny die ekonomiese groeiverwagtinge van 1,9- tot 1,4-persent
# Ramaphosa geniet vanmiddag ‘n werks-middagete in die Withuis voor bilaterale gesprekke
# En motorsport: Ferrari se spanhoof vra beter vertonings in kwalifisering
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, meen nou die ekonomie sal vanjaar teen 1,4-persent groei, laer as die 1,9-persent wat hy in Maart voorspel het. Hy het vandag sy derde begroting in Kaapstad voorgelê. Godongwana voorspel die reële BBP-groei sal oor die volgende twee jaar matig styg tot 1,6-persent in 2026 en 1,8-persent in 2027. Hy sê op die pad vorentoe bly die risiko’s hoog. Dit sluit in die verslegtende wêreldwye vooruitsigte, swakker as verwagte groei in die vierde kwartaal van 2024, en die voorgesette logistieke beperkings en hoër leenkoste.
Godongwana het ook ekonomiese groei sonder besuinigingsmaatreëls beloof, ondanks Suid-Afrika se toenemende fiskale uitdagings. Hy sê die regering sal besteding oor die volgende drie jaar met 5,4-persent verhoog, terwyl hy die verhoging van BTW of die instel van groot nuwe belastings uitstel. Godongwana het die stygende koste van skuld erken, wat nou op 1,3-duisend-miljard-rand oor die mediumtermyn voorspel word:
# Alle oë is vandag op Washington DC gerig, met die ontmoeting tussen president Cyril Ramaphosa en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, in die Withuis. Die vergadering begin vanmiddag om 5:30 en sluit ‘n werks-middagete en bilaterale gesprekke in. Ramaphosa word vergesel deur sleutelministers, Ronald Lamola, Khumbudzo Ntshavheni, Parks Tau en John Steenhuisen, sowel as swaargewigte in die sakewêreld soos Johann Rupert, Adrian Gore van Business Unity South Africa en Zingiswa Losi van Cosatu. Bekende gholfspelers Ernie Els en Retief Goosen sal ook teenwoordig wees.
Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, beklemtoon intussen die belangrikheid van gebalanseerde handelsbande tussen Suid-Afrika en Amerika om die huidige spanning te verlig. Kotzé het ná ‘n sake-afvaardiging se besoek aan Washington kommer uitgelig oor die onlangse Amerikaanse tariewe van 30-persent op uitvoere, insluitend sitrus en makadamia-neute. Hy het aan Newzroom Afrika gesê om wederkerige handelsooreenkomste te handhaaf, is uiters belangrik vir die landbousektor en ekonomiese bestendigheid:
# Motorsport: Ferrari se spanhoof, Fred Vasseur, sê hulle moet hul kwalifiserende uitslae verbeter voor die naweek se Monaco Grand Prix. Charles Leclerc se beste kwalifiserende uitslag tot dusver die seisoen was derde op die wegspringrooster en Lewis Hamilton vyfde. Albei jaers is in die tweede kwalifiserings-ronde uitgeskakel in verlede naweek se Emilia Romagna Grand Prix. Vasseur sê dis duidelik dat hulle die laaste drie of vier Grand Prix ‘n baie vinniger pas in die wedrenne gehandhaaf het as in die kwalifiserende rondes, wat frustrerend is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-443-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-306-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….