Nuus 17:00
BULLETIN 19 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# GOOD vra diplomasie eerder as waninligting wanneer Suid-Afrika en Washington ontmoet
# ‘n Onderwyser kry lewenslange tronkstraf vir die verkragting van ‘n leerder in Worcester
# En sewe skoolmeisies van Johannesburg verskyn in die hof op aanklag van aanranding
# Die GOOD-party sê president Cyril Ramaphosa se besoek aan Washington hierdie week is ’n gulde geleentheid om bande met Amerika te herstel en vals bewerings oor Suid-Afrika reg te stel. Ramaphosa sal president Donald Trump na verwagting Woensdag ontmoet, met grondhervorming, handel en buitelandse beleid hoog op die agenda. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê grond word regverdig en met vergoeding onteien, ondanks sommige groepe in Amerika wat waninligting versprei:
# Die Streekshof in Worcester in die Boland het die onderwyser Jeremy Claasen tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ’n graad 8-leerder. Volgens die staat het Claasen die slagoffer seksueel gereedgemaak voordat hy haar tydens skool-ure in sy klaskamer aangerand het. Sy verweer is van die hand gewys en die hof het geen gronde vir versagtende omstandighede gevind nie, en het sy magsmisbruik beklemtoon. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, sê die slagoffer het dwarsdeur die verhoor ondersteuning van die Thuthuzela-sorgsentrum ontvang:
# Sewe skoolmeisies tussen 13- en 15-jaar-oud, het vandag in ‘n Landdroshof in Johannesburg verskyn op aanklagte van aanranding. Die Gautengse polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê hulle word aangekla van die aanranding van ‘n 14-jarige leerder in Bellevue nadat ‘n video vroeër die maand wyd gedeel is op sosiale media. Masondo het bevestig die meisies is later in hul ouers se sorg vrygelaat, kragtens die Wet op Kindergeregtigheid. Die voorval het openbare kommer gewek oor geweld by skole en die rol van sosiale media om sulke dade bloot te lê.
# Sokker: Die UDM het Suid-Afrika se nasioinale Onder-20-span, Amajita, geprys nadat hy gisteraand in Egipte die eerste keer die Onder-20 Afrikabeker-titel gewen het. Amajita het die prestasie behaal ‘n volle 28-jaar nadat hulle in 1997 die eindstryd van die jeug-toernooi teen Marokko verloor het. UDM se waarnemende sekretaris-generaal, Zandile Phiri, het belegging in grondvlaksport aangemoedig om meer jong talent te kweek:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-446-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-232-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die Britse bergklimmer Kenton Cool het die 19de keer die kruin van Mount Everest bereik en daarmee sy eie rekord deur ’n nie-sjerpa verbeter. Die 51-jarige, wat vergesel is deur die Nepalese sjerpa Dorji Gyaljen, het gister die kruis van agt-duisend-849-meter bereik. Cool het Everest die eerste keer in 2004 uitgeklim en sedertdien doen hy dit feitlik jaarliks. Dit was Gyaljen se 23ste klimtog na die kruin. Nog ’n Nepalese sjerpa, Kami Rita, is tans weer op die berg in ’n poging om sy rekord van 30 te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….