Nuus 17:00
BULLETIN 15 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet bevestig SANW-magte sal in fases uit die DRK onttrek word
# Fase 2-beurtkrag word later vanaand opgeskort
# En Putin is afwesig by die vredesonderhandelinge met Oekraïne in Turkye
# Die kabinet het ‘n gefaseerde onttrekking van Suid-Afrikaanse Nasionale Weermaglede uit die Demokratiese Republiek die Kongo bevestig. Dit volg op die beëindiging van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-sending se mandaat. Die ontplooiing was deel van pogings om die oostelike deel van die DRK bestendig te maak, waar gewapende konflik duisende mense ontwortel het. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê soldate sal in fases terugkeer huis toe om ‘n gladde en veilige oorgang te verseker:
# Eskom sê fase 2-beurtkrag sal tydens spitstyd vanaf 4-uur vanmiddag tot 10-uur vanaand voortgaan, maar daarna word dit opgeskort. Eskom sê een-duisend-175 megawatt is reeds herstel sedert die begin van die week en ‘n verdere een-duisend-850 megawatt sal na verwagting teen môreaand weer beskikbaar wees. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dié verbeterings en voldoende noodreserwes help om die netwerk bestendig te hou:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het afgevaardigdes en adjunkministers na Turkye gestuur vir vredesonderhandelings met Oekraïne en daarmee Kiëf se uitdaging verwerp om president Volodimir Zelensky te ontmoet. Putin het vroeër regstreekse onderhandelinge met Oekraïne in Istanboel voorgestel, en Zelensky het beloof om hom in te wag. Reuters berig Putin het die wêreld lank in die donker gehou oor sy planne voor die Kremlin ’n laervlak-afvaardiging aangekondig het wat Oekraïne se Europese bondgenote as ’n belediging beskryf. Dis steeds onduidelik hoe Oekraïne gaan reageer.
# Die president van Atletiek Suid-Afrika, James Moloi, vra verhoogde befondsing om Span SA te ondersteun na hul prestasie op die Wêreld-afloskampioenskap in Guangzhou, China. Die mans- en vroue-vier-maal-100-meter- en vier-maal-400-meter-span, asook die gemengde vier-maal-400-span het hul plek bespreek vir die Wêreldkampioenskap in Tokio in September. Moloi het die noodsaaklikheid van meer hulpbronne beklemtoon om hul sukses volhoubaar te maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-737-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-190-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse akteur Tom Cruise is vyf minute lank staande toegejuig na die eerste vertoning van Mission: Impossible – The Final Reckoning op die Cannes-rolprentfees in Frankryk. Die regisseur was Christopher McQuarrie, en die rolverdeling sluit bekendes in die reeks flieks in soos Simon Pegg, Ving Rhames en Hayley Atwell, asook Vanessa Kirby en Angela Bassett. Die 62-jarige Cruise, wat sy eie waagtonele in die fliek doen, sê hy is dankbaar dat hy bewonderaars 30-jaar lank met hierdie reeks kon vermaak. Die fliek is van volgende Vrydag in teaters.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….