Nuus 17:00
BULLETIN 12 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering bevestig Afrikaners behou hulle burgerskap te midde van hulle Amerikaanse hervestiging
# Ramaphosa beklemtoon die waarde van Afrika-vryhandel op ‘n forum in Abidjan
# En tien spanne ding mee om die voorste agt posisies in die naweek se laaste VRK-ligawedstryde
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê 49 Afrikaners wat na Amerika verhuis met vlugtelingstatus, sal nie hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor nie. Die woordvoerder, Chrispin Phiri, het aan Newzroom Afrika gesê Artikel 20 van die Grondwet beskerm burgerskap, maar die gebruik van Suid-Afrikaanse diplomatieke dienste in die buiteland kan vlugtelingstatus beïnvloed. Hy beklemtoon die regering verwerp bewerings van Afrikanervervolging en bestempel dit as polities gemotiveerd:
# President Cyril Ramaphosa het die hervormende potensiaal van die Afrika-vryhandelsooreenkoms beklemtoon tydens die Afrika-forum vir uitvoerende hoofde in Abidjan in die Ivoorkus. Hy het gewys op die ooreenkoms se vermoë om Afrika se ekonomiese landskap te hervorm, binnelandse handel en industrialisasie te bevorder, en beleggings te lok. Ramaphosa het gevra vir sterker vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor om Afrika as ’n wêreldwye ekonomiese rolspeler te posisioneer:
# Skukuza se polisie het ‘n 59-jarige voormalige veldwagter en ‘n 37-jarige man in hegtenis geneem vir onwettige jag en betreding in die Krugerwildtuin. Veldwagters het tydens patrollies vier mans opgemerk waarvan twee gevlug het en twee vasgetrek is met ‘n vlakvark, ’n impalakop en strikke. Polisiewoordvoerder Thulisile Magagula sê een verdagte het ‘n veldwagter-uniform gedra en staan reeds tereg op aanklagte vanaf 2021. Albei sal in die Masoyi-rondgaande hof verskyn.
# Die Stad Tshwane sê hy gaan voort om spazawinkels en ondernemings wat kos hanteer maar nie reëls nakom nie, te sluit as deel van sy optrede teen onveilige en onwettige ondernemings. Die metro het die naweek ‘n nakomingsoperasie in Hammanskraal uitgevoer waar beamptes ʼn snoepwinkel gesluit het wat nie bouplanne het nie en onwettig aan die elektrisiteitsnetwerk gekoppel is. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Hannes Coetzee, sê hulle gaan nie wetteloosheid duld nie:
# Rugby: Tien spanne ding mee om die voorste agt posisies in die naweek se laaste liga-ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Bulle is tans in die tweede plek op die punteleer en die Haaie vierde. Albei spanne het reeds gekwalifiseer, terwyl die Stormers vyfde is en nog nie heeltemal veilig is nie. Leinster is eerste en die verdedigende kampioen, Glasgow Warriors, derde. Scarlets, Benetton, Munster, Cardiff en Edinburgh kan steeds die top-agt haal. Vir die Leeus is die kampioenskap egter iets van die verlede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-300-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-243-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….