Nuus 17:00
BULLETIN 9 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vonnisoplegging van Kelly Smith en twee mede-veroordeeldes sal op 29 Mei plaasvind
# Minister Macpherson stel ‘n projek bekend om munisipaliteite se infrastruktuur-mislukkings te verhoed
# En krieket: Die Protea-vrou klop Sri Lanka oortuigend in Colombo
# Die vonnisoplegging van Kelly Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn, wat skuldig bevind is aan die ontvoering en mensehandel van Smith se sesjarige dogter, Joslin, aan die Weskus, is geskeduleer vir 29 Mei in die White City-gemeenskapsentrum in Diazville, Saldanhabaai. Voor-vonnisverrigtinge sal twee dae voor die tyd begin. Die drietal sal op 23 Mei in die hof verskyn vir prosedure-aangeleenthede. Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die voor-vonnisverrigtinge sal slagoffer-uitwerkingverklarings insluit:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het loods-ooreenkomste met drie munisipaliteite gesluit om plaaslike infrastruktuurlewering te versnel. Ingevolge ‘n nuwe projek waarvolgens munisipaliteite “aangeneem” kan word, sal Metsimaholo in die Vrystaat, uMngeni in KwaZulu-Natal, en Govan Mbeki in Mpumalanga ondersteuning ontvang om projekbeplanning te verbeter, koste-oorskrydings te verminder en werk van beter gehalte te verseker. Macpherson sê die vennootskappe van 24-maande sal hopelik ‘n einde bring aan mislukte infrastruktuurprojekte en werklike verandering in gemeenskappe teweeg bring:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die beweerde verkragting van ’n leerling-polisielid deur ’n instrukteur by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Opleidingsakademie in Tshwane ten sterkste veroordeel. Die verdagte is in hegtenis geneem en sou vandag in die hof verskyn. Mchunu het die voorval as ’n gruwelike misbruik van mag en ’n skending van vertroue beskryf. Die woordvoerder van die ministerie, Kamogelo Mogotsi, het die Onafhanklike Polisie-ddondersoekdirektoraat gevra om toe te sien dat geregtigheid geskied:
# Krieket: Die Protea-vroue het Sri Lanka oortuigend verslaan in die driehoekige eendag-toernooi in Colombo. Die besoekers het ’n uitstekende 315 vir nege aangeteken danksy Annerie Dercksen se eerste honderdtal en Chloé Tryon se 74. Kaptein Laura Wolvaardt, Nadine de Klerk en Tazmin Brits het almal meer as 30 lopies aangeteken. Die gasvroue is daarna vir slegs 239 uitgeboul, wat Suid-Afrika ’n oorwinning met 76 lopies besorg het. Tryon het vyf paaltjies geneem. Dit was die Proteas se eerste oorwinning, terwyl Sri Lanka en Indië Sondag in die eindstryd speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-dollar-91-sent. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-22-sent per vat.
# En laastens, twee Britse mans, Daniel Graham en Adam Carruthers, is skuldig bevind aan strafregtelike skade nadat hulle doelbewus ‘n beroemde plataanboom in Noord-Engeland afgekap het. Die boom het op Sycamore Gap gestaan, wat geleë is op die geskiedkundige UNESCO-wêrelderfenisgebied Hadrian’s Wall. Die erfenisgebied is byna twee-duisend jaar gelede gebou om die verste noordwestelike grens van die Romeinse Ryk te bewaak. Die plataanboom het in 1991 wêreldbekend geword toe dit in die lokettreffer Robin Hood: Prince Of Thieves, verskyn het waarin Kevin Costner gespeel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….