Nuus 17:00
BULLETIN 8 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oorskot word gevind wat vermoedelik dié van ‘n vermiste joernalis en sy lewensmaat is
# Oud-hoofregter Zondo sê die stryd teen korrupsie is nog lank nie verby nie
# En Suid-Afrika se wyndruiwe-oes vir vanjaar het uitstekende vruggehalte gelewer
# Die polisie het oorskot gevind wat vermoedelik dié is van die Pretoriase joernalis Sibusiso Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Precious Mdhluli, wat in Februarie verdwyn het. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die ontdekking is gemaak in ‘n bos op die grens tussen Gauteng, Mpumalanga en Limpopo. Vyf verdagtes is in verband met die saak in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer ontvoering en kaping. Masemola sê DNS-toetse sal die identiteite bevestig:
# Voormalige hoofregter Raymond Zondo sê Suid-Afrika se stryd teen korrupsie is nog lank nie verby nie, ondanks vordering sedert die staatskapings-kommissie. Hy het op die 15de Statebondstreekskonferensie vir Hoofde van Teenkorrupsie-agentskappe in Afrika beklemtoon dat aanspreeklikheid en wetstoepassing versterk moet word. Zondo het instellings aangemoedig om beslissend op te tree gegrond op die kommissie se bevindings, en gewaarsku dat openbare vertroue afhang van sigbare gevolge vir oortredings:
# AfriForum sê hy is kommerwekkend dat die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, stilbly oor Tenbosch Mining se aansoek om ‘n steenkoolmyn naby die Krugerwildtuin te vestig. Die burgerregteorganisasie het verlede maand die departement en SANParke versoek om ‘n openbare verklaring uit te reik oor hul standpunt rakende die aansoek. Lambert de Klerk van AfriForum sê die land se natuurlike erfenis kan nie opgeoffer word weens ‘n apatiese politieke houding of administratiewe nalatigheid nie:
# Suid-Afrika se wyndruiwe-oes het uitstekende vruggehalte gelewer danksy matige, droë toestande wat geur, struktuur en suurgehalte verbeter het. Die uitvoerende hoof van die bedryfsliggaam SA Wine, Rico Basson, het ‘n opbrengs van 1,24-miljoen-ton aangeteken vanaf meer as 86-duisend hektaar. Basson sê hierdie oes beklemtoon die veerkragtigheid en toewyding van die land se vervaardigers en wynmakers om Suid-Afrikaanse wyn verder op te hef. Hy het ter viering van Pinotage se eeufees beklemtoon hierdie oesjaar versterk Suid-Afrika se wêreldwye wynstatus te midde van stygende vraag na volhoubare gehalte-wyn.
# Rugby: Die Haaie maak staat op kontinuïteit in hul Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met die Ospreys môre op Kingspark. Hoofafrigter John Plumtree het grootliks die span behou wat Ulster twee weke gelede in Belfast 22-19 geklop het. Daar is een verandering in die voorry, met Dian Bleuler wat by Ox Nché oorneem, terwyl Siya Masuku in die plek van Jordan Hendrikse op losskakel speel. Jurenzo Julius neem op buitesenter oor by Lukhanyo Am. Die Durbanse span moet slegs drie ligapunte in hulle laaste twee wedstryde aanteken om ’n tuis-kwarteindstryd te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-427-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-358-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….