Nuus 17:00
BULLETIN 6 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hofsaak oor die ontvoering van ‘n joernalis word oorgeplaas na Mpumalanga
# Die regering pak die wiskunde-krisis in skole aan
# En rugby: Libbok keer terug vir die Stormers na vier maande op die krukkelys
# Die hofsaak teen ’n persoon wat verbind word met die ontvoering van die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat Zodwa Mdhluli is om jurisdiksionele redes oorgeplaas vanaf Mamelodi in Pretoria na KwaMhlanga in Mpumalanga. Drie ander beskuldigdes sal later die week in dieselfde hof verskyn. ‘n Operasie het Sondag tot vier inhegtenisnemings gelei, met een verdagte wat glo laaste saam met die paartjie gesien is. Ander het motoronderdele by hulle gehad wat vermoedelik aan Ndlovu behoort. ‘n Multidissiplinêre span ondersoek die saak. Die paartjie het in Februarie verdwyn.
# Die Departement van Basiese Onderwys werk saam met provinsies om die gebrek aan wiskunde-onderrig in 464 Suid-Afrikaanse skole aan te pak. Die vak is laat vaar weens min belangstelling en hulpbron-tekorte. Die departement se woordvoerder, Seliki Tlhabane, het aan SABC News gesê skole wat geraak is sal deur strategiese ingrypings geteiken word met gekwalifiseerde onderwysers en gratis hulpbronne wat verseker word. Die departement wil belangstelling weer aanwakker en toegang tot wiskunde-onderrig landwyd verbeter.
# Die Gemeenskapsveiligheidskomitee van die Gautengse wetgewer het kommer uitgespreek nadat meer as 300 beamptes van Ekurhuleni se Metropolisie geskors is oor hul deelname aan ‘n onwettige staking in Maart. Die voorsitter, Bandile Masuku, waarsku dat die massa-skorsing openbare veiligheid en verkeersvloei bedreig, veral rondom die OR Tambo Internasionale Lughawe. Hy vra die Stad Ekurhuleni om die arbeidsgeskil vinnig op te los om noodsaaklike wetstoepassingsdienste te herstel:
# AfriForum Jeug het ‘n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien om duidelikheid te kan kry oor die Noordwes-Universiteit se ondersoek na ‘n voorval in die Eikenhof-vrouekoshuis, wat na bewering ‘n sangoma-ritueel behels het. Die universiteit beweer daar is geen bewyse van so ‘n ritueel gevind nie, maar Yvonne Gerber van AfriForum versoek ‘n volledige openbaarmaking van die ondersoek se omvang, bevindings en die toekomstige optrede:
# Rugby: Die Springbok-losskakel Manie Libbok sal die eerste keer in vier maande vir die Stormers speel in Saterdag se voorlaaste Verenigde Rugbykampioenskaps-ligawedstryd teen die Dragons in Kaapstad. Hy het in Januarie sy knie seergemaak. Die wedstryd sal die Bok Damian Willemse se 100ste vir die Stormers wees, terwyl afrigter John Dobson ook die luukse het van die fikse toetsspelers Sacha Feinberg-Mngomezulu en Warrick Gelant. Die Stormers is tans sesde op die punteleer en die Dragons 16de.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-805-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-396-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….