Nuus 17:00
BULLETIN 5 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê die regering waardeer Microsoft se ooreenkoms oor ‘n belegging van 1,32-miljard-rand
# Eskom voorspel ‘n beurtkragvrye winter met hoogstens fase 2
# En jurie-keuring begin in Sean ‘Diddy’ Combs se verhoor
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering waardeer pogings deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging en Microsoft om ‘n ooreenkoms te bereik oor ‘n belegging van 1,32-miljard-rand. Hy sê dit sal oor die volgende tien jaar aangewend word vir die ontwikkeling van klein, medium en mikro-ondernemings in swartbesit in tegnologie- en nie-tegnologie-sektore. Mashatile sê die ooreenkoms maak voorsiening vir die vaardigheidsontwikkeling van jong swart Suid-Afrikaners in opkomende tegnologieë:
# Suid-Afrikaners kan ‘n winter sonder beurtkrag verwag. Die ergste wat verwag kan word, is fase 2-onderbrekings. Die kragvoorsiener se wintervooruitsigte is gegrond op verwagte onderbrekings van tussen 13-duisend en 15-duisend Megawatt. Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, beklemtoon die herstel van Medupi se eenheid 4, Kusile se eenheid 6 en Koeberg se eenheid 1 sal na verwagting ongeveer twee-duisend-500 Megawatt by die netwerk voeg, wat kragvoorsiening tydens spitstye sal versterk:
# Die keuring van ‘n jurie begin vandag in New York in die nuuswaardige federale sekshandel-verhoor van die musiekmagnaat Sean “Diddy” Combs, wat aangekla word van jare se ondraaglike mishandeling. Die 55-jarige Combs het onskuldig gepleit op alle aanklagte en dring aan dat alle seksuele dade vrywillig geskied het, maar aanklaers sê hy het vir jare sy slagoffers met dreigemente en geweld gedwing om dwelmgedrewe sekspartytjies te hou. Die staat sê ‘n pleitooreenkoms is aangebied, maar Combs het dit verwerp. Die besonderhede oor die pleitooreenkoms is nie bekendgemaak nie.
# Sokker: Trent Alexander-Arnold het aangekondig dat hy sy jeugklub Liverpool na 20 jaar gaan verlaat wanneer sy kontrak aan die einde van die seisoen verstryk. Hy sê dit is die moeilikste besluit van sy lewe. Die 26-jarige verdediger van Engeland wat Liverpool vanjaar gehelp het om die Premierliga te wen, word sterk verbind met ‘n gratis skuif na Real Madri. Hy het sy senior debuut in 2016 gemaak en tot dusver 352 wedstryde vir die Reds gespeel en 23 doele aangeteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-176-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-319-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-41-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n boodskap, wat wyd versprei word oor ‘n uiters koue winter weens die sogenaamde Aphelion-verskynsel, as vals en misleidend bestempel. Die fopnuus, wat op sosiale media rondgestuur word, beweer die aarde se afstand van die son sal ‘n seisoen meebring wat kouer as gewoonlik is. ‘n Voorspeller, Lehlohonolo Thobela, verduidelik die Aphelion, wat op 3 Julie verwag word, het geen beduidende uitwerking op temperature of seisoene nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….