Nuus 17:00
BULLETIN 2 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Wes-Kaapse Polisiekommissaris verwelkom skuldigbevinding in Joslin Smith-saak
# Likwidasies verminder in Maart met 8-persent
# En Britse akteur Russell Brand verskyn in die hof op verkragtingsaanklagte
# Die Wes-Kaapse Polisiekommissaris Thembisile Patekile het die skuldigbevinding van Kelly Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn in die Joslin Smith-saak verwelkom. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Saldanhabaai het die trio skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel. Die kommissaris sê ondersoeke duur voort, en hy hoop Kelly Smith sal uiteindelik bekend maak wat met die sesjarige Joslin gebeur het, wat op 19 Februarie verlede jaar verdwyn het.
# Statistieke Suid-Afrika sê sakelikwidasies het in Maart vanjaar met agt-persent gedaal vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Hoewel maatskappysluitings effens gestyg het, is 21 minder beslote korporasies gelikwideer. Onica Mushwana van Stats SA sê die eerste kwartaal van die jaar het ’n drie-persent algehele daling in likwidasies getoon, wat op ’n geringe verbetering in sakebestendigheid dui:
# Die Britse komediant en akteur Russell Brand het vandag in ‘n Londense hof verskyn op vyf aanklagte van verkragting en ander seksuele oortredings. Die 49-jarige het internasionaal bekend geword as die man van popster Katy Perry nadat hy ‘n loopbaan in Brittanje gesmee het met sy gewaagde komedie-optredes. Brand het net gepraat om sy besonderhede te bevestig voordat hy beveel is om weer op 30 Mei in die hof te verskyn. Brand staan tereg op twee aanklagte van verkragting, twee van seksuele aanranding en een van onsedelike aanranding.
# Rugby: Met slegs twee rondes ligawedstryde nog oor, het sewe spanne steeds ‘n kans om die halfeindronde van die SA-beker te haal. Die aksie begin om 6-uur vanmiddag in George, waar die SWD Arende die verdedigende kampioen, Griekwas, verwelkom. Die ander vier wedstryde begin almal 3-uur môremiddag. Die Boland Kavaliers verwelkom die punteleiers, die Pumas, in Wellington; die Valke reis na Potchefstroom om teen die Luiperds te speel; die Cheetahs is gasheer vir die Grens Bulldogs in Bloemfontein; en Oos-Kaap pak die Griffons in Gqeberha.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-904-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-255-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-58-sent per vat.
# En laastens, die Augrabies Waterval Nasionale Park in die Noord-Kaap ondervind ‘n seldsame en sterk toename in watervloei met die Oranjerivier wat teen byna vier-duisend kubieke meter vloei na swaar reën en damvrylatings. Sommige dele van die park soos die piekniek en wildbesigtigingsgebiede is vir veiligheidsredes gesluit, maar drie besigtigingsdekke is steeds oop. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad moedig besoekers aan om steeds die asembenemende natuurgebeurtenis waar te neem wat nog vir ‘n paar weke te sien sal wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….