Nuus 17:00
BULLETIN 29 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie liggame, vermoedelik dié van vermiste polisiekonstabels, is in die Hennopsrivier gevind
# Algerië waarsku Internasionale Geregshof dat verbod op agentskap vir vlugtelinge, Palenstina se hede en toekoms in gevaar stel
# En, die DA wens Kanadese eerste minister Mark Carney geluk
# Drie liggame, vermoedelik dié van polisielede wat verlede week vermis geraak het, is in die Hennopsrivier in Centurion gevind. Die lede, wat op pad van die Vrystaat na Polokwane was, het op 23 April verdwyn terwyl hulle in ‘n wit Volkswagen Polo gereis het. Volgens polisiewoordvoerder Athlenda Mathe is die liggame nog nie geïdentifiseer nie en soektogte en ondersoeke duur voort:
# Algerië sê Israel se verbod op die Verenigde Nasies se agentskap vir Palestynse vlugtelinge, UNRWA, is ’n aanval op die hede en toekoms van die Palestynse volk. By die Internasionale Geregshof in Den Haag het Maya Sahli Fadel van Algerië gesê dié optrede skend internasionale reg en bevorder dubbele standaarde wat die beginsels van die VN-Handves en globale geregtigheid oortree:
# Die DA het eerste minister Mark Carney en Kanada se Liberale Party gelukgewens met hul oorwinning in die nasionale verkiesing. Die DA sê Carney se oorwinning bring hernieude hoop vir liberale demokrasie te midde van wêreldwye onsekerheid. Dit volg op die bedanking van die voormalige eerste minister Justin Trudeau vroeër vanjaar. Die DA het sy wens uitgespreek om diplomatieke en handelsbande met Kanada te versterk en het sy steun toegesê vir die bevordering van gedeelde vryhede en ekonomiese samewerking as ’n vennoot in die regering van nasionale eenheid.
# ‘n Fonds van 9,3-miljard-rand, wat gemik is op die verbetering van moeder- en neonatale gesondheidsorg in Afrika suid van die Sahara, is vandag in Abu Dhabi van stapel gestuur. Met Westerse lande wat hulp aan Afrika dramaties verminder, word filantrope insluitend die Gates-stigting, deur die Beginnings Fund bymekaar gebring. Die fonds beoog om meer as 300-duisend sterftes te voorkom en toegang tot gehaltesorg vir 34-miljoen moeders en babas te verbeter. Die fonds wil oor die volgende vyf jaar met tien lande saamwerk, naamlik Ethiopië, Ghana, Kenia, Malawi, Lesotho, Nigerië, Rwanda, Tanzanië, Uganda en Zimbabwe.
# Krieket: Indië se vrouespan het die openingswedstryd in die driehoekige reeks teen Suid-Afrika met 15 lopies gewen nadat hulle die loot gewen en besluit het om eerste te kolf. Die Indiërs het 276 vir 6 aangeteken, met Pratika Rawal wat 78 lopies van 91 balle aangeteken het. Die Proteas het uitstekend begin met ’n openingsvennootskap van 140 lopies deur Tazmin Britz en Laura Wolfaardt. Britz het 109 lopies van 107 balle aangeteken, maar die paaltjies het voortdurend om haar geval en Suid-Afrika is in die laaste boulbeurt vir 261 uitgehaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 21-rand-12-sent teen die euro en 24-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-976-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-313-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….