Nuus 17:00
BULLETIN 25 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC herbevestig sy verbintenis tot eenheid ná ‘n vergadering met die DA
# Binnelandse Sake gaan slim ID-dienste na ‘n duisend banktakke uitbrei
# En UWK-studente begin ‘n veldtog om verdienstelike medestudente te help om die finansieringsgaping te oorbrug
# Die ANC sê hy bly verbind tot dialoog en nasiebou ná ‘n vergadering met die DA. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die party se afvaardiging gelei in opvolggesprekke met die DA, na afloop van die onlangse ommekeer van die voorgestelde BTW-verhoging. Die ANC sê die gesprekke het ten doel om dringende begrotingsaangeleenthede aan te pak, en die party is onwrikbaar oor sy doelwitte van maatskaplike en ekonomiese geregtigheid, billikheid en hervorming.
United Africans Transformation vra intussen vir die instel van ‘n rykdomsbelasting ná die kansellasie van die BTW-verhoging. Die party voer aan dat ‘n belasting op die rykes ‘n regverdiger en doeltreffender manier is om inkomste te vermeerder sonder om die werkersklas en armes te benadeel. Woordvoerder Mighty Mabule sê alternatiewe maatreëls moet fokus op ekonomiese geregtigheid en die vermindering van ongelykheid deur regverdige belastingbeleid:
# Die Departement van Binnelandse Sake beplan om slim-ID- en paspoortdienste uit te brei na ‘n duisend-banktakke teen 2027/28. Slegs 30 takke bied nou aanlyn vasleggingsgeriewe aan. ‘n Honderd nuwe geaktiveerde takke word teen die einde van die jaar verwag, met 40 takke wat teen die derde kwartaal gereed sal wees. ‘n Nuwe ooreenkoms met banke en integrasie met bank-toepassings sal ook toegang, aflewerings en dokumentverwerking bespoedig. Binnelandse Sake beplan om 18-miljoen Suid-Afrikaners voor die volgende algemene verkiesing te bereik.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Cheetahs, Frans Steyn, het verskeie veranderings aan sy span aangekondig om die Valke môre in die SA-beker in Bloemfontein te pak. Jeandré Rudolph is terug in die beginspan. Die flanke is Pierre Uys en Neels Volschenk, en die slotte Victor Sekekete en Carl Wegner. Hencus van Wyk sal die nommer een-trui dra. Clayton Blommetjies is uit weens griep en word vervang deur George Lourens, en Jandré Nel is die skrumskakel. Pieter Jansen van Vuren, Sisonke Vumazonke en Daniel Maartens is op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 21-rand-36-sent teen die euro en 25-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-543-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-277-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-3-sent per vat.
# En laastens, studente van die Universiteit van die Wes-Kaap neem beheer oor van hul toekoms met die herbekendstelling van die Ikamvalethu-fonds, wat daarop gemik is om geld in te samel om mede-studente te help wat finansiële probleme ondervind. Die iKamvalethu Miljoen-veldtog mik daarna om teen Jeugdag op 16 Junie ‘n miljoen rand in te samel. Die fondse sal gebruik word vir studentehulp tydens registrasie en vir noodverligting. Die president van die studenteraad, Macntosh Khasembe, sê die fonds sal verdienstelike studente help:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….