Nuus 17:00
BULLETIN 24 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fase 2-beurtkrag word ingestel
# President Zelensky vra hulp om Oekraïense kinders terug te kry uit Rusland
# En rugby: Die Stormers pak Benetton Saterdag in Kaapstad
# Eskom het aangekondig ondanks aansienlike vordering met pogings om die opwekkingsherwinning te verbeter, is daar tans ‘n hoër elektrisiteitsaanvraag as wat verwag is, opwekkingseenhede is buite werking en uitgebreide beplande instandhouding plaas die stelsel onder druk. Fase 2-beurtkrag is dus vanaf 4-uur vandag ingestel en geld voorlopig tot môre-oggend 5-uur.
# Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, het Suid-Afrika gevra om te help met die terugkeer van meer as 400 Oekraïense kinders wat tydens die oorlog na Rusland geneem is. Hy het tydens sy besoek aan Pretoria deur ‘n tolk gesê baie van die kinders is teen hul wil geneem en word in haglike omstandighede aangehou. Hy het president Cyril Ramaphosa bedank vir sy ondersteuning met vredespogings en ‘n beroep gedoen vir sterker globale druk op Rusland om die oorlog te beëindig:
Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê intussen sy gesprekke met Zelensky sal fokus op die versekering van markte vir Suid-Afrikaanse produkte en toegang tot graan en kunsmis. Dit het ten doel om globale ontwrigtings in die voorsieningsketting op te los, wat veroorsaak is deur die voortslepende oorlog in Oekraïne. Steenhuisen het beklemtoon hoe belangrik hierdie voorrade vir voedselsekerheid is en beloof ook volgehoue ondersteuning aan kleinskaalse boere deur beter marktoegang:
# Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens sê daar is ‘n toename in bedrog- en slagofferaanmeldings en beskermende registrasies. Volgens die 2024 Interpol-verslag oor kuberbedreigings in Afrika beskou lande gyselware en digitale afpersing as van die ernstigste kuberbedreigings in Afrika. Die organisasie se woordvoerder, Elmi Kemp, sê die meeste bedrog kom in die versekeringsektor voor. Sy sê tegnologie word breedvoerig gebruik om bedrog te pleeg:
# Rugby: Die Stad Kaapstad het verskeie logistieke reëlings aangekondig sodat sake Saterdag vlot sal verloop vir rugbyliefhebbers wat die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die Stormers en die Italiaanse span Benetton in die Kaapstad-stadion gaan bywoon. Toeskouers word aangemoedig om openbare vervoer te gebruik aangesien parkering in Groenpunt beperk is. MyCiTi-pendelbusdienste word gratis aangebied vir kaartjiehouers vanaf kwart-voor-vier, met die laaste busse wat om kwart-oor-vier vertrek. Burgemeesterskomiteelid JP Smith waarsku oor druk verkeer weens maand-einde en die Kaapstadse Internasionale Jazzfees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 21-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-846-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-69-sent per vat.
# En laastens, die Wetenskaplike en Nywerheids-navorsingsraad, in vennootskap met Use-It Waste Beneficiation en Key Bricks, het ‘n koste-doeltreffende boublok bekendgestel wat uit 70-persent herwonne bou-afval en glas vervaardig is. Die herwinbare ineenskakel-bakstene wat in KwaZulu-Natal tentoongestel is, benodig geen sement nie en vereenvoudig bouwerk. Dit het ten doel om behuisingskoste te verminder, onwettige storting te bekamp, en sakegeleenthede te skep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….